Vrystaat se goue kwartier knak Kavaliers

Vrystaat logo ronelDie Vrystaat Cheetahs was Saterdag in veral die tweede helfte van die Curriebekerwedstryd in Wellington goed, en die Boland Kavaliers sou geleer het ʼn wedstryd word oor 80 minute beslis. Die Vrystaters het 44-16 gewen.

Die rustydtelling was slegs 10-9 in die wenspan se guns. Hulle het egter binne die bestek van ʼn kwartier in die tweede helfte drie keer gaan druk en ook twee strafdoele aangeteken.

Hierdie 27 punte het die Boland behoorlik op die agtervoet geplaas en hulle het net eenvoudig nie die spelers maar veral die ervaring gehad om daarvan te herstel nie.

Inaggenome dat dit Boland se eerste wedstryd in sewe jaar in die Curriebeker se Premierliga is, is daar heelwat om oor tevrede te voel. Hulle het die trappie van die opstellende ronde van die Curriebeker waar die teenstand dikwels maar eina was, redelik goed gemaak.

Die Kavaliers het met oorgawe verdedig en moet volpunte kry vir die wyse waarop hulle deurgaans alles gegee het. Daar is egter baie skaafwerk wat bykomend tot die harde werk van die afgelope maande gedoen moet word.

Vir die Vrystaat is daar heelwat om oor tevrede te voel, maar hulle sal toegee dit was nie naastenby hulle beste nie. Hulle het so half met rukke en stote gespeel, soos die 27 punte in 16 minute aandui met die enigste ander drie na rustyd in die laaste minute toe die Vrystaat weens ʼn stutbesering net 14 man gehad het.

Dat die Cheetahs egter veral ʼn agterlyn het wat nie gering geskat moet word nie en boonop ʼn pak wat sterk skrum (hoewel ʼn mens nie weet hoe sterk die Boland in die faset is nie) is ʼn waarskuwing dat hulle weer die halfeind wil en beslis kan haal.

Puntemakers –

Vrystaat Cheetahs (10) 44: Drieë: Sergeal Petersen, Raymond Rhule, William Small-Smith, Shaun Venter 2. Doelskoppe: Fred Zeilinga 5. Strafdoele: Zeilinga 3.
Boland Kavaliers (9) 16: Drieë: Danwel Demas. Doelskop: Nico Scheepers. Strafdoele: Scheepers 3.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.