Vrystaat se kans om tong uit te steek

Die Vrystaat Cheetahs-rugbyunie het die regte besluit geneem om alle fokus vir die volgende drie weke na die Curriebekerreeks te verskuif en om die naweek hul beste span te kies om vir die uitspeelrondes te probeer kwalifiseer.

Die Cheetahs se deelname aan die Pro14-reeks was ʼn reddingsboei vir die bond nadat hul Superrugbymat onder hulle uitgepluk is, maar net soos die Suid-Afrikaanse krieketbase hul vingers met dieT20 Global League verbrand het, is die besluit om die Cheetahs en Southern Kings reeds in vanjaar se Pro14-reeks te laat speel, straks ook te oorhaastig geneem.

Die Vrystaat verdien om in die halfeindronde van die Curriebekerreeks te speel. Hulle was voor op die puntelys, maar toe word daar namens hulle ʼn besluit geneem om voorkeur aan die Pro14-reeks te gee.

Vergeet daarvan dat die Vrystaat verlede jaar se kampioen was, vergeet daarvan om die spelers te beloon, of om die toeskouers waarde vir hul geld te gee. Kies julle beste span om die Europeërs te beïndruk en basta met die Curriebekerreeks – of so het dit altans van langs die kantlyn af gelyk.

Die Vrystaat Cheetahs kan nou weer hul beste span kies. As hulle tot die halfeindronde en eindstryd sou deurdring, moet hulle nie eens daaraan dink om hul beste span teen Zebré en Connacht in die volgende twee Pro14-wedstryde te laat speel nie. Probeer eerder om die Curriebeker te wen, om tong uit te steek.

Dit sal nog ʼn hele paar jaar neem om in die Pro14-reeks raak te vat, om gewoond te raak om in die Suid-Afrikaanse somer te speel en om die spelers wedstrydskerp en vars  in die volgende ses/sewe maande te hou.

Twee weke aan, twee weke af… soms selfs tot drie weke.

Die Europese spanne se beste spelers kry nie dié ruskanse (dis aan die begin van hul seisoen) nie, want hulle speel in November toetsrugby, só ook tussen 2 Februarie en 17 Maart wanneer die Sesnasiesreeks beslis word.

Intussen ding die spanne ook in die Europese Uitdaagbekerreeks en Europese Kampioenskappe mee en hulle speel ook in die Anglo-Walliese reeks (waaraan die Pumas en Griekwas glo ook voortaan sal deelneem).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jack Russl ·

Doen net eers goed navorsing voordat die berig geplaas word. Die Connacht wedstryd het nie ‘n invloed op die CC nie.

Die Pro14 het nou ‘n 2 weke ruskans. Die naweek 13de speel die Cheetahs in die CC teen die Leeus en niks Pro14 nie. Die naweek van die 20ste word die semi-finale gespeel in die CC en niks Pro14 nie. Die naweek van die 27ste word die finaal van die CC gespeel en speel die Cheetahs teen Zebre. So die Connacht wedstryd word gespeel die week na die CC finaal.

Die is ‘n moelike situasie vir die Cheetahs. Die Pro14 het die Cheetahs ‘n kans gegee en hulle kan nie sommer hulle dankbaarheid uitspreek deur nie hulle sterkste span te stuur nie. Aan die ander kant is die CC SA se voorste provinsiale kompetisie. Al sê baie dat die CC afgewater is, bly dit ‘n gesogte trofee vir SA provinsies

Pieter Kruger ·

J Russel: Die Connacht-wedstryd het wel nie ‘n direkte invloed nie, maar indirek wel. Die Cheetahs se toerspan speel eers teen Zebre (wat met die CB-reeks oorvleuel) en dan speel hulle in die tweede week teen Connacht. Dis hoekom ek daarna verwys het.

Frans C ·

In Australië reël Rod Kafer oud Brumbies en en Wallabie losskakel ‘n beraad om al die afrigters om een tafel te kry in ‘n poging om ‘n plan van aksie in werking te stel om die All Blacks se dominasie in wêreldrugby te verbreek.

Die mense is gatvol om gedurig aan die verloorkant te wees al het hul twee wêreldbekers gewen.Hul voorlopig gevolgtrekking.Die NZ-model is die beste en moet Australië so spoedig as wat moontlik is, iets soortgelyk in werking stel,want wenspanne lok toeskouers en borge.Verloorspanne sukkel.

En in Suid Afrika? Hier word gepoog om lewe te blaas in ‘n kompetisie waarvan die huidige wenner uit die Superrugbyreeks geskop is omdat hy nie goed genoeg geag is nie.Plaaslike
afrigters probeer deur talle nuwe aankope spanne te bou wat die Curriebeker kan wen,terwyl die Bokke derde in die kampioenskapreeks eindig.

Behoort soos in Australië oud Springbokke nie op te staan en soos Kafer die leiding te neem nie en ‘n nuwe bedeling te beding nie? Dit is tog duidelik dat Curriebeker sukses nie lei tot sukses op internasionale vlak nie.Die Cheetahs en Kings is uitgeskop omdat hul as swak streekspanne beskou is.

Plaas die Curriebeker in die rugbymuseum. Begin ‘n nuwe bedeling met ‘n nuwe indeling van
sterk streekspanne gebou om die huidige deelnemers.So ‘n streekskompetisie kan verskillende vlakke hê om soveel spelers bloot te stel aan strawwe kompetisie.Begrawe
provinsialisme .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.