Vrystaat se skrumwerk knak die Sharks in Durban

Vrystaat logo ronelDie Vrystaat Cheetahs het die Sharks Saterdagmiddag in Durban moedeloos  geskrum maar toe amper met swak dissipline hierdie voordeel prysgegee voor hulle die Curriebekerwedstryd in Durban 38-30 gewen het.

Dit was hoogstens ʼn interessante wedstryd. Die nat bal – dit het vroeër gereën – het baie hanteerfoute tot gevolg gehad en dit was dus so ʼn aan-af-wedstryd wat maar net nie wou vloei nie.

Boonop was die Sharks se verdediging goed genoeg om die Vrystaat, wanneer hulle op die aanval was en wyd gespeel het, van die doellyn weg te hou.

Die jong heelagter Curwin Bosch het die tuisspan in die prentjie gehou met ses strafdoele en een doelskop en hulle eerste 18 punte aangeteken. Die Vrystaat het vyf drieë, insluitende ʼn strafdrie, op die telbord geplaas en die Sharks twee in die laaste kwart van die wedstryd.

Die rustydtelling was vleiend vir die KwaZulu-Natallers wat toe net 12-14 agter was. Dit was eerder die Cheetahs se swak dissipline, hantering en oordeel, en natuurlik Bosch wat die tuisspan in die prentjie gehou het.

♦  Die wedstryd het op ʼn baie ongelukkige noot vir die Sharks begin. Hulle kaptein Philip van  der Walt het die afskop gevang, soos die gebruik is na die aanstormende Cheetahs toe gehardloop om vas te maak, en ʼn skouer van Justin Basson op die kakebeen gekry.

Basson het nie sy arms gebruik nie maar ook koen ʼn geelkaart gekry nie.

Van der Walt kon nie sy konkussietoets slaag nie. Stefan Ungerer het toe op die veld as kaptein waargeneem. Dit was des te meer ontwrigtend nadat die Sharks se verkose kaptein Keegan Daniel Vrydag met ʼn besering onttrek het.

Ook in die skrums was daar ʼn onverwagse vroeë wending. Die Sharks het die Cheetahs in die eerste skrum heeltemal laat disintegreer. Curwin Bosch het hulle na vier minute laat voorloop en toe het die Cheetahs heeltemal in dié faset oorgeneem,.

Na 11 minute was hulle 7-0 voor na ʼn skrum-strafdrie en dié treurmare het vir die Sharks eenvoudig voortgeduur.

Die nat bal en veld het veroorsaak het die Vrystaters se gewone aftrappe en hantering beïnvloed, en met Bosch wie se visier goed ingestel was, was dit dwaas om soveel strafskopfoute te maak.

Die skrum-oorheersing het ook veroorsaak dat die tuisspan die hele tyd op die agtervoet was en laat by die afbreekpunte aangekom het. Min rugby is dus deur hulle agterlyn gespeel.

Na rustyd was hulle beter en het hulle binne tien minute in die 59ste en 69ste minute gaan druk. Die druk op die Vrystaat was dus steeds daar nadat Bosch dit aanvanklik met sy strafdoele gedoen het.

Dit was die twee voorste spanne op die puntelys en ʼn mens het meer verwag. Maar, gegewe die tuisspan se kapteinsprobleme, die Vrystaat se skrumoorheersing en die hele klompie beserings, was die middelmatigheid met die natterige toestande en bal seker te wagte.

Puntemakers –

Sharks (12) 30: Drieë:  Francois Kleynhans, Thomas du Toit. Doelskop: Curwin Bosch: Strafdoele; Bosch 6.
Vrystaat Cheetahs (14) 38: Drieë: Strafdrie, Michael van der Spuy, Tian Meyer, Uzair Cassiem, Shaun Venter. Doelskoppe; Fred Zeilinga. Strafdoel: Zeilinga .

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan ·

Net soos ek voorspel het…alle berigte weer oor die bulle wat “opgeskuif” het na 3e plek…maar die land is doodstil oor die Cheetahs…o ja..voor ek vergeet..die Vrystaat is mos nie op die map nie…HAAK VRYSTAAT…!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.