Vrystaat se tweede helfte te goed vir die Leeus

currie cup logo 2016.jpgDit was die ou-ou cliché van twee helftes, maar die Vrystaat Cheetahs se helfte was stukke beter en hulle het die Goue Leeus Donderdagaand in Bloemfontein 37-29 geklop.

Daarmee is die onoorwonne Vrystaters feitlik verseker van ʼn halfeind terwyl die Leeus nou sal moet uithaal om dit reg te kry en hulle titel as Curriebekerkampioen te verdedig.

Rustyd was die Goue Leeus redelik gemaklik 26-15 voor, al het albei spanne twee drieë gedruk. Selfs het die Vrystaatse losskakel Neil Marais beter geskop, sou die tuisspan rustyd bekommerd onder die pawiljoen ingegaan het.

Hulle is kis geskrum met die jong loskop Dylan Smith wat die grootste skade aangerig het. Albei die Vrystaatstutte wat teen hom geskrum het, Tom Botha en Ox Nché, is beseer wat tot die frustrerende onbetwiste skrums gelei het.

Die Vrystaat, wat die Sharks verlede week in dié afdeling verwoes het, het in die eerste helfte, grootliks weens die skrumoorheersing van die Leeus, aan besitdroogte want dit het na die losskrums oorgespoel.

Tog wou-wou dit lyk of die Leeus se ritme nie so goed soos altyd was nie, ondanks hul oormaat besit (62% in die eerste helfte). Hulle het heelwat hanteerfoute gemaak wat geleenthede laat verbygaan het.

Rugby is in ʼn groot mate, miskien meer so as die meeste ander sporte, ʼn spel waar die kop ʼn groot rol speel. Dalk was die Leeus oorgerus toe hulle uit die tonnel kom, want die Vrystaat het die skielike gebrekkige verdediging uitgebuit. Of dalk was die Vrystaat skielik net meer op hulle stukke. Die beter dissipline in die tweede helfte het ook `n groot rol gespeel.

In elk geval, 22-3 in die tweede helfte vertel die hele storie.

Hoewel dit die Vrystaat 12 minute na rustyd geneem het om die bres te slaan het hulle toe  binne twee minute twee keer gaan druk. Marais het die tweede een, ʼn prag-poging wat deur Rayno Benjamin afgerond is verdoel, en die Vrystaat Cheetahs was na 54 minute die eerste keer voor, 27-26.

ʼn Strafdoel aan albei kante het dit 30-29 in die guns van die Vrystaat gemaak, en toe het Tian Meyer net voor die einde gaan druk om ʼn kosbare bonuspunt uit die Leeubek te ruk met ʼn verdoelde drie, 37-29.

Dit was lekker rugby, en die groterige skare het, selfs op ʼn Donderdagaand, gewys dat wen en mooi rugby toeskouers lok.

En die Vrystaat het gewys dat verdediging wedstryde wen en die Leeus het die les geleer dat ʼn wedstryd 80 minute duur en die verdediging in daardie tyd nie durf skietgee nie.

Puntemakers –

Vrystaat-Cheetahs (15) 37: Drieë: Raymond Rhule, Reniel Hugo, Shaun Venter, Rayno Benjamin, Tian Meyer. Doelskoppe: Niel Marais 3, Strafdoele: Marais 2

Leeus (26) 29: Drieë: Rohan Janse van Rensburg, Robbie Coetzee. Doelskoppe: Jaco van der Walt 2, Strafdoele: Van der Walt 4 Andries Coetzee.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Stef ·

Well Done Cheetahs. Net bekommerd oor diepte in ons voorry. Ox is n goeie loskop moenie n 2de Coenie maak deur hom op vaskop te kies. Die res van die span is jonk en goed gebalenseerd.

Jakkalas ·

Dissipliene gaan jou wedstryde kos. Mens kan nie vir 60min met net 14 spelers op die veld games wen nie. Verdediging ook kritiese foute.

Frans C ·

Wat moet ‘n mens uit die wedstryd leer. Die Leeus skrum goed en het die Vrystaat in die afdeling verwoes.Dom foute kos wedstryde en die 2de geelkaart het die Leeus 14 punte gekos.
Onbetwiste skrums het die Vrystaat gered naby hul doellyn maar ook tot hul 5de drie gelei
want geen losvoorspeler stop ‘n skrumskakel op spoed nie ,vyf tree van die doellyn af nie.

Daar is duidelik ‘n groot verskil tussen die Leeus se agterlyn wat tans speel en die een wat
in die Superreeks gespeel het, wat met die oormag balbesit sou baljaar het.

Kyk ‘n mens na wat NZ-spanne in hul kompetisie met so’n oormaat balbesit aanvang dan steek Curriebekerspanne sleg af wat vaardihede aanbetref. Dit is tyd dat besin moet word
oor alle kompetisies en die hoeveelheid rugby wat gespeel word.

‘n Korter Superreeks en vroeër kampioenskapreeks sal meer beter gehalte spelers vrystel vir die Curriebeker en die gehalte daarvan verhoog.Ek ys om te dink dat die verwoeste Springbokspan nog moet gaan toer. Iemand met ‘n bietjie gesonde verstand moet halt roep
teen die rugbykalender. Die Curriebeker kry dus ‘n nuwe baas hierdie jaar en dat sal ironies
wees as die Vrystaat dit wen hul uit Superrugbygeskop word, bygesê nie een van die twee spanne wat gespeel het sou hond haaraf maak in die kompetisie.

Andries ·

Asseblief, hierdie kan nie gesien word as n oorwinning as daar nie eers geskrum kon word in tye waar die leeus die oorhan gehad het nie, daardie laaste drie sou glad nie gebeur het as dit was vir die 5 opeenvolgende skrums wat glad nie kompeterend was nie, cheetahs het n goeie game gehad, maar as dit is hoe hul wil wen gaan hul in elkgeval nie baie ver kom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.