Vrystaat, SWD oortref verwagtinge

Die Supersportreeks het Vrydag twee strawwe kragmetings opgelewer, met die Vrystaat en Suidwestelike Distrikte wat sterker teenstand gebied het as wat dalk verwag is.

Die Luiperds en Grens het wel, soos verwag is, gewen om hul punteleerplekke te verstewig, maar die verloorspanne het elk twee bonuspunte verdien.

Op Olënpark, Potchefstroom, het die Luiperds die Vrystaat-vyftiental met 37-32 geklop (rustyd 28-20), en in die Buffalostad-stadion, Oos-Londen, het Grens met 42-38 teen die SWD geseëvier (rustyd 14-19).

Die Luiperds het uit die staanspoor die Vrystaat op die knieë gedwing en sommer in die eerste helfte al vier drieë vir ʼn bonuspunt gedruk.

Toe die Noordwesters kort voor rustyd effens verslap, het die besoekers met twee vinnige drieë teruggeslaan, en in die tweede helfte veel beter teenstand gebied.

Die Luiperds se Schalk Hugo (losskakel) het ʼn drie gedruk, en met vier doelskoppe en drie strafdoele geslaag om 22 punte vir sy span by te dra.

♦ Die Arende se rustydvoorsprong het die hoop van ʼn sege by sy ondersteuners laat opvlam, maar die Bulldogs het ander planne gehad.

Die besoekers het veral munt geslaan uit ʼn geelkaart aan Grens se skrumskakel, toe hulle dié tien minute uitgebuit het om ʼn agterstand van 0-14 tot 12-14 te laat krimp.

Elk van die spanne het uiteindelik ses drieë gedruk, en dit was die tuisspan se akkurater skopwerk pale toe wat die verskil gemaak het.

Die puntemakers –

Luiperds 37 (28) – Drieë: Marno Redelinghuys, Schalk Hugo, Gene Willemse (2). Doelskoppe: Schalk Hugo (4). Strafdoele: Schalk Hugo (3).

Vrystaat 32 (20) – Drieë: Justin Basson, Rayno Benjamin, Stephan Kotzé, Ntokoza Vidima. Doelskoppe: Heinrich Bitzi (2), Marco Mason. Strafdoele: Heinrich Bitzi (2).

Grens 42 (14) – Drieë: Johannes Janse van Rensburg, Ntabeni Dukisa, Sokuphumla Xakalashe, Wandile Putuma, Lukhanyo Nomzanga, Michael Makase. Doelskoppe: Oliver Zono (5), Ntabeni Dukisa (1).

SWD 38 (19) – Drieë: Christo du Plessis, Quaid Langeveldt, Adri Jacobs, Wilneth Engelbrecht, Jan van der Merwe, Daniël Maree. Doelskoppe: Leighton Eksteen (4).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Piet de Jager ·

Hallo!!! Vrystaat “oortref verwagtinge”. Moes hulle dan verder verloor het? Sinnelose opskrif vir iemand wat beslis NIE by die wedstryd was nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.