Vrystaat-titel uit gunsteling se hande gegaps

Daar word die Vrystaatse Plattelandse titel toe enkele minute voor die eindfuitjie uit die gunsteling se hande gegaps.

Só laat weet Charlie May, die subunie se sekretaris.

Barkly-Oos se Black Jacks het sy titel as die Vrystaatse Platteland-ligakampioen suksesvol verdedig toe hy die gunstelingspan, Hibernians van Burgersdorp, met 34-29 in die eindstryd geklop het (rustyd 19-14).

Hibernians het drie minute voor die einde nog met 29-28 voorgeloop. Barkly het met ʼn straf- en ʼn skepdoel die Burgersdorpers se harte gebreek.

Die wenspan het die George Nelbeker en goud verdien, terwyl Hibernians met die Human Auto-beker en silwer tevrede moes wees.

Aliwal Buffels het derde geëindig en brons gekry, toe hulle ook in ʼn naelbytstryd vir Eur-Africans (Aliwal-Noord) met 36-26 geklop, en só die M&B-skild verower het.

Die Plaatfinaal sal eerskomende Saterdag op Colesberg beslis word, waar die plaaslike Universals en Crocodiles van Burgersdorp mekaar die stryd aansê.

Stoele van Venterstad en Scorpions van Gariep speel in die voorwedstryd vir die agteros-plek ter afsluiting van die liga.

May sê aangesien die SA Rugbyunie (Saru) se interprovinsiale amateurstoernooi vanjaar weens sy finansiële knyp in die slag gebly het, bekyk die subunie die moontlikheid om sy eie toernooi aan te bied om die manne te beloon wat hul allerbeste in die loop van die seisoen gegee het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.