Vrystaat wen ver; Bulle, Griekwas vermaak; en Pumas wag vir Leeus

Die Vrystaat Cheetahs, 2016 se Curriebekerkampioen, loop breëbors nadat hy die verdediging van sy titel met ʼn yslike oorwinning van 47-12 oor die Sharks afgeskop het, en die Blou Bulle het Griekwas in ʼn drieëfees met 51-45 geklop.

Maar te veel lof moet nie té vroeg en té kwistig uitgedeel word nie.

Die Vrystaat het te doene gekry met ʼn Sharksspan waarvan weinig van die name bekend is omdat hulle Superspelers nog kwarteind gespeel het.

En die Bulle het, ondanks sewe drieë, ook vyf afgestaan in ʼn wedstryd waar daar net eenvoudig deur albei spanne met elke greintjie besit gehardloop is. Die gevolg was baie hanteerfoute, baie omkeerbesit en voordeel wat benut is en tot min skrums gelei het.

Vrystaat Cheetahs vs Sharks

Nie minder nie as 11 van die Sharks het in Bloemfontein teen die Vrystaat die heel eerste keer Curriebekerrugby gespeel – en die Superspan van die Sharks het vroeër vanjaar met 52-10 teen die Cheetahs gewen, wat die Vrystaatse sege in perspektief stel.

Aan die pluskant vir die Vrystaat, benewens die vyf punte uit die wedstryd, is dat hulle met die nuwe afrigtingspan en al goed begin het, terwyl nuwe spelers soos onder meer die Blitsbokke Rosko Specman en Cecil Afrika by die span ingeskakel het.

Die Curriebeker oor die volgende twee weke is ook die ideale geleentheid om vir die Pro12 te slyp – mits hulle vanjaar in September al daaraan sal deelneem.

Puntemakers –

Vrystaat Cheetahs (7) 47: Drieë: Uzair Cassiem, Francois Venter, Reinach Venter, Raymond Rhule, William Small-Smith, Zee Mkhabela. Doelskoppe: Niel Marais 4. Strafdoele: Marais 3.
Sharks (7) 12: Drieë: S’bura Sithole, Bandisa Ndlovu. Doelskoppe: Benhard Janse van Rensburg.

Griekwas vs Blou Bulle

Die hardloopbenadering wat die Bulls se afrigter Nollis Marais die afgelope een en ’n half jaar probeer inskerp en in die span se laaste paar wedstryde begin wys het, het Saterdag in Kimberley vrugte afgewerp.

Daar is ongetwyfeld meer vaardigheid en selfvertroue om die bal die werk te laat doen. Miskien self te véél so, soos die Griekwas se twee onderskepdrieë van getuig.

Albei spanne het vir juweeltjies gesorg, en daar is ook ʼn paar langafstand-drieë gesien.

ʼn Bietjie los en effens slordig? Ja, maar dit was groot vermaak deur die spelers wat met die eindfluitjie almal met hul hande op die knieë na asem gesoek het.

Warrick Gelant en Travis Ismaiel het hulle vennootskap van vroeg verlede jaar hervat en met Duncan Matthews daarby het die agterste drie van die Bulls opwinding verskaf en gehalte uitgestraal.

En Griekwas? Hulle sal ongetwyfeld ʼn krag in die reeks wees. Met die wyse waarop die twee spanne op die telbord wipplank gery het, kon nog ʼn minuut of twee ʼn ander uitslag gebring het.

Puntemakers:

Griekwas (20) 45: Drieë: Ederies Arendse, Enver Brandt 2, Christiaan Meyer, Jonathan Janse van Rensburg. Doelskoppe: André Swarts 2, George Whitehead 2. Strafdoele: Swarts 4.
Blou Bulle (26) 51: Drieë: Abongile Nonkontwana, Piet van Zyl, Jaco Visagie, Duncan Matthews, Warrick Gelant, Warrick Gelant, Travis Ismaiel. Doelskoppe: Tinus de Beer 3,  Joshua Stander 2. Strafdoele: De Beer 2.

Pumas vs Goue Leeus

Die Goue Leeus speel Sondagmiddag (14:30) op Nelspruit teen die Pumas. Sonder hulle Superspelers en ʼn klomp wat nie in Saterdag se 23-tal teen die Sharks gespeel het nie, maar saam met hulle oefen en voorberei, kan die Lions soos in die Supersportreeks hulle klaarmaak vir ʼn taai stryd.

Die Pumas se afrigter Brent Janse van Rensburg het die week erken hulle het aan ʼn plan gewerk om die Leeus se hardlooppatroon te ontwrig.

Die Pumas kan ongetwyfeld hulle Curriebeker-veldtog tuis met ʼn oorwinning begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.