Vrystaatliga: rooikaart keer nie wegholsege

In weerwil van ʼn rooikaart aan sy binnesenter het die Shimlas Saterdag ʼn wegholoorwinning oor Collegians in die reeks om die Vrystaatse Rugbyunie (VSRU) se Stadsbeker behaal.

Francois Pretorius, wat die vorige week twee drieë gedruk het, se afwesigheid kon nie keer dat die studente Collegians op die Ramblers met 87-5 oorrompel nie. Die rustydtelling was 42-0.

Sango Xamlashe (buitesenter) het ʼn driekuns vir die wenspan behaal en Roger Khuse (regtervleuel), Wilhelm Kotzenberg en Benji Jansen van Vuuren (albei flanke) het elk twee keer agter die doellyn gaan kuier.

Nakkie Naudé (losskakel) se drie en agt doelskoppe het 21 punte vir hom en die span opgelewer.

Charl Pretorius (linkervleuel), Ewan Coetzee (plaasvervanger) en Schreuder (plaasvervanger-losskakel) het ook elk ʼn drie gedruk.

Rayhaan Lombaard (plaasvervanger-heelagter) het ook twee verdoel.

♦ Op Shimlapark het die Irawas vir Bloemfontein Polisie op Shimlapark oortuigend met 45-17 (rustyd 14-5) geklop.

Ruan Henning (plaasvervanger-buitesenter) het twee drieë gedruk, en Jarik van der Walt (regtervleuel), Kurt Eybers (linkervleuel), Willem Barnard (skrumskakel), Kobus Lombaard (flank) en Abrie Coetzee (plaasvervanger-haker) elk een.
Justin Taylor (losskakel) het vyf verdoel.

♦ Die Ritsems het Polisie III met 50-28 geklop (rustyd 17-7).

Stefanus Fourie (buitesenter), Bradley de Wet (skrumskakel), Petrus Nienaber, Christiaan Swanepoel (flanke), Gideon van der Walt (slot), Francois Grobbelaar (plaasvervanger-losskakel) en Lucky Makhamba (plaasvervanger-regtervleuel) het die wenspan se agt drieë gedruk.

Dale de Wet, Mario Viera (twee), Luyola Nkosana en Tiaan van Zyl het vir doelskoppe gesorg.

♦ Barend van Heerden (regtervleuel) het ʼn driekuns vir die UV-o.20-span in die Tweede Liga van die Stadsbeker teen Mangaung I gedruk.

Die studente het met 27-19 gewen nadat hulle rustyd met 12-0 voor was.

Ruan Janse van Rensburg (plaasvervanger-haker) en Francois Strydom (plaasvervanger-linkervleuel) het elk ʼn drie gedruk.

Heini Bruhn (losskakel) het een verdoel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.