Vrystaters loop Lesotho-span onder die stof

Die Vrystaat-amateurspan. Die name verskyn hiernaas. (Foto: Verskaf)

Die Vrystaat se amateurrugbyspan het Saterdag in die Setsoto-stadion in Maseru ʼn Lesotho-vyftiental onder die stof geloop.

Die span het die wedstryd met 94-6 gewen, nadat hy rustyd reeds met 56-3 voor was.

Josua Albertse, die losskakel, het vyf drieë gedruk en twee verdoel vir ʼn persoonlike bydrae van 29 punte.

Sy skakelmaat, Janus Sander, het 17 met ʼn drie en ses doelskoppe aangeteken, en Pieter Faber, die buitesenter, 14 met twee elk drieë en doelskoppe.

Die wenspan se ander drieë is deur Tisetso Yika (heelagter), Rynhardt Roux (linkervleuel), Charl Steyl (flank), George Radebe (bankstut), Asithandile Mrubata (bankvleuel) en Randall Nelson(bankflank) gedruk.

Wihan Schmidt (linkervleuel) en Ivann Bothma (bankhaker) het elk ʼn doelskop bygevoeg.

Die Lesotho-rugbyfederasie (FLR) spreek op sy Facebook-blad die hoop uit dat dit die begin van ʼn vrugbare verwantskap kan wees.

ʼn Mens bespeur ʼn sprankie hoop dat dit dalk vorentoe in ʼn derbystryd kan ontwikkel.

Dieselfde Lesotho-vyftiental was ʼn week tevore die naaswenner van die Griffons-Oos se tweede liga, nadat Ladybrand hom met 17-3 in die Stoney Steenkamp-eindstryd geklop het.

Die FLR het toe daarop gewys dat deelname aan dié liga veel tot die groei van die span bygedra het.

Lesotho se nasionale span, die Hingste, het in Mei vanjaar aan Rugby Afrika se reeks om die Bronsbeker deelgeneem, maar het albei sy wedstryde teen Rwanda (22-32) en Mauritius (16-49) verloor.

Die Rowanbeker-kampioen en Vrystaatse Goue Beker-span van verlede jaar, Bloemfontein Polisie, het vyf spelers in die Vrystaatse span gehad, die Universiteit van die Vrystaat (UV), Mangaung en Collegians vier elk, Steyners drie, Old Greys twee en Verdediging een.

Die Vrystaat-span op die foto is (voor) Dirk Nel (Polisie), Pieter Faber (onderkaptein, P), Itumeleng Molai (afrigter), Henry de Wet (kaptein, Steyners), Cameron Malan (afrigter), George Radebe (M), Pieter du Plessis (bestuurder, P), Otsile Ranthako (M); (middel) Asithandile Mrubata (UV), Randall Nelson (P), Juandré van den Bergh (P), Wihan Schmidt (S), Rynhardt Roux (S), Josua Albertse (UV), Joseph Maroele (M), Janus Sander (Collegians), Ivann Bothma (C); (agter) Chico Antonio (Verdediging), Heinke Meyer (C), Bulela Sotyelelwa (UV), Charl Steyl (UV), BD van der Vyfer (C), Dave Victor (Old Greys), Lohan Swart (OG), Lebohang Tsoeu (P), Tisetso Yika (M).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.