VSA Arende se rekordsege terugslag vir Kanada se WB-deelname

Kanada het Sondagoggend met 16-52 teen die VSA Arende pak gekry in die twee spanne se tweede kwalifiserende wedstryd vir die 2023 Wêreldbekertoernooi en loop gevaar om hul eerste toernooi nóg mis te loop.

Met die kwalifisering in die sakkie kan John Mitchell, wat nou by die Blou Bulle Maatskappy as direkteur van afrigting inval, sy volle aandag aan die regruk van die Bulls en Blou Bulle in Pretoria wy.

Dit was ook die voormalige losvoorspeler van die Lions en kaptein van die Arende, Todd Clever, se laaste wedstryd.

Amerika sal in groep C van die Wêreldbekertoernooi speel teen Engeland, Frankryk, Argentinië en ʼn Suidsee Eiland-kwalifiseerder wat nog bepaal moet word.

Kanada het voor die wedstryd nog gespog met 15 oorwinnings in 20 uitspeelwedstryde teen die VSA en was nog by elke wêreldbekertoernooi sedert dit die eerste keer in Nieu-Seeland (en ook effentjies in Australië) aangebied is.

Hulle het egter vier jaar laas teen Adie VSA gewen.

Kanada moet nou in twee wedstryde teen Uruguay uitspeel om hulle ononderbroke deelname aan die Wêreldbeker te verseker. Verloor hulle daar, is daar darem nog die repechage-rondomtalie waar die nie-kwalifiseerders om ʼn enkele plek uitspeel.

♦  Die eerste wedstryd tussen die twee buurspanne en groot rugbyvyande het verlede naweek in Hamilton in Ontario met 28-elk gelykop geëindig.

Die uitslag van die tweede wedstryd Sondag in San Diego, Kalifornië is ʼn verrassing na die gelykopstryd verlede naweek, en Kanada moet hulle swak dissipline daarvoor blameer. Hulle oortredings het die Yanks gou laat voorloop, maar nadat hulle na net 20 minute reeds 0-19 agter was, het die Kanadese goed teruggeveg.

Hulle was net tien punte agter toe hulle agsteman Tyler Ardron ʼn geel kaart gekry het. Drie doele en 21 punte later was die slag vir die Arende gelewer. Hulle agt drieë, die wentotaal en die wenmarge is nuwe rekords teen Kanada.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico K ·

Ek dink Kanada het op sy dag selfs so ver as die kwarteindrondte gevorder.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.