VSA-skok dalk goeie nuus vir SA rugby

Eugene (Loffie) Eloff – skokuittrede. (Foto: Verskaf)

Die skokuittrede van ʼn afrigter wat op die kortlys was om die Amerikaanse nasionale rugbyspan af te rig, hou dalk goeie nuus vir Suid-Afrikaanse rugby in.

Eugene (Loffie) Eloff, wat verlede jaar wondere met die Austin Huns verrig het, het onverwags sy uittrede as beroepsafrigter aangekondig, en keer na Suid-Afrika terug.

Eloff het die Huns, wat eerder as ʼn gawe kuierspan bekend was, binne ʼn enkele seisoen in Amerika se nasionale klubkampioen omskep, en is genoem as ʼn moontlike opvolger van John Mitchell, die hoofafrigter van die Amerikaanse Arende, wat nou die Bulls moet kom regruk.

Hy sê hy gaan eers ʼn blaaskans vat, ʼn boek wat hy geskryf het, bekend stel, en die kat deeglik uit die boom kyk, maar hy is nie vir rugby verlore nie. Daarna sal hy dit oorweeg om by skole, universiteite en iets soos die mentorskap van afrigters en spelers betrokke te raak.

Hopelik is Amerika se verlies Suid-Afrikaanse rugby se wins, veral gesien in die lig van die SA Skolespan se gesukkel tans, en SA rugby se wyer probleem met gebrekkige vaardighede.

Met Eloff as hoofafrigter het die SA o.19-span twee keer in drie jaar (2003 en 2005) die destydse Junior Wêreldkampioenskap gewen, en hy is ʼn uitgesproke voorstander daarvan dat die aankweek van vaardighede groter aandag op skolevlak verdien.

Doelwitte bereik

Eloff sê in ʼn verklaring hy kondig sy uittrede met ʼn swaar hart aan, maar hy het al sy gestelde doelwitte binne ʼn jaar bereik en hy glo dis tyd om ʼn volgende geslag afrigters ʼn kans te gee.

Sy opdrag by die Huns was om ʼn strategiese plan op te stel, strukture te vestig, ʼn topbestuurspan aan te stel, die span in ʼn beroepseenheid te omskep, en die nasionale titel teen 2019 te wen.

Die Huns se eienaars is vol lof vir dit wat hy by die klub vermag het.

Richard Osborn sê verloor was nooit by Eloff ter sprake nie, en hy het van die staanspoor ʼn weningesteldheid by die spelers ingeprent.

Chris Bugge beaam dit en bestempel Eloff as ʼn ambassadeur vir Suid-Afrika, wat enorme waarde tot Amerikaanse rugby bygevoeg het.

Ongelooflike vlak

“Hy het die spelers tot ʼn ongelooflike vlak van geestes- en liggaamlike fiksheid gebrei.”

Thierry Daupin sê dit was ʼn ongelooflike ervaring om te aanskou hoe Eloff in ʼn kort rukkie bereik wat die meeste mense as onmoontlik sou beskou.

Nóg een van die eienaars, Todd Clever, ervare kaptein van die Amerikaanse Arende en ʼn gewese Lions- en Goue Leeus-speler, was die man wat Eloff na Texas toe gelok het.

Hy sê Eloff het ʼn hoë peil vir navolging deur sy opvolgers gestel, “en ek was baie gelukkig om hom as afrigter, mentor en vriend in my lewe te hê”.

Vermors?

In nog ʼn verwikkeling het die Huns pas die skepping van Austin Elite Rugby aangekondig, ʼn span wat Sentraal-Texas aanstaande jaar in die Senior Rugbyliga (ʼn nuwe beroepsreeks) sal verteenwoordig. Die Huns sal die kern van die span vorm.

Eloff het tien jaar lank as amateur en 19 jaar lank in die beroepsera afgerig, en dis nie vreemd dat hy ʼn bietjie wil uitspan nie.

Kan Suid-Afrika dit bekostig om sy kundigheid te vermors? Hopelik kan hy op plekke ingespan word waar dit landwyd die meeste vrug kan dra.

Is hy nie dalk die man wat die SA Rugbyunie (Saru) se rondgaande eenheid nodig het om groter vrug te kan dra nie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Josua Keys ·

Loffie was nog altyd ‘n briljante afrigter selfs toe hy by die Lions was en sou dieselfde resultate gekry het as wat Johan Akkerman en John Michael gekry het, die verskil was net dat Loffie nie vrye teels gehad het om spelers te koop nie en die ander bonde se finansies op daardie stadium was sterker as die Lions s’n maar dinge het nou so bietjie verander, as dit anders om was sou die resultate aansienlik beter gelyk het in die guns van die Lions. Loffie moes lankal terug gebring geword het na Suid Afrika om weer hier te kon afrig insluitend Jimmy Stonehouse wat by die Pumas was, alby kan enige tyd die Bokke afrigting oorneem en ‘n sukses daarvan maak solank Politiek en kwotas ‘n rooikaart kry, die beste speler moet speel en moet sy plek verdien omdat hy goed is nie omdat sy velkleur hom ‘n plek verseker nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.