VSRU-liga: Kovsiespanne buit twee in Stadsbeker

Twee spanne van die Universiteit van die Vrystaat het Saterdag albei afdelings van die Vrystaatse Rugbyunie (SRU) se Stadsbeker gebuit.

In die Eerste Liga het die Shimlas met 54-26 teen die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) se Ixias gewen; en in die Tweede Liga het die Ritsems met 38-17 oor die SUT se Tjisas koning gekraai.

Die Ixias het aanvanklik sterk teenstand gebied en die Shimlas was rustyd net met 26-20 voor, maar die Ritsems het uit die staanspoor hul stempel afgedruk en met ’n voorsprong van 21-0 omgedraai.

Die Shimla-voorspelers het tussen die driedrukkers oorheers met Benji Janse van Vuuren (flank, twee), Raymond Woest (slot), Hanno Snyman (haker, twee) en Janu Botha (loskopstut) wat ses van die span se agt drieë gedruk het.

Die plaasvervanger-agterspelers Kurt Eybers (binnesenter) en Anrich Alberts (heelagter) het ook elk ʼn slag agter die doellyn gaan kuier.

Nakkie Naudé (losskakel) het sewe verdoel om 14 punte op die telbord te plaas.

Vir die Ritsems het Dale de Wet (losskakel) 18 punte aangeteken. Hy het ’n drie gedruk, al vyf sy span se drieë verdoel, en met ʼn strafdoel geslaag.

Rholane Ncubuku (slot), Albert Verwey (linkervleuel), Ruan Janse van Rensburg (regtervleuel) en Stefanus Fourie (plaasvervanger) het die ander drieë gedruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kiepie ·

As Shimlas eerste liga en Ritsems tweede liga speel, waar speel Irawas dan? Ook eerste liga?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.