Vuurwarm Spanje klop hard aan Wêreldbeker-deur

Dit lyk of ʼn vuurwarm Spanje ʼn goeie kans het om aan aanstaande jaar se toernooi om die Wêreldbeker (RWB) in Japan deel te neem.

Hy het Sondag in Madrid verrassend met 22-10 met Roemenië in die reeks om die Rugby Europa-beker afgereken, nadat hy vroeër ook verras het deur Rusland te klop.

Die Spaanse Leeus was rustyd met 13-3 voor, in die wedstryd wat ook geld om deelname aan die Wêreldtoernooi te bepaal.

Brad Linklater, die Spaanse regtervleuel en ʼn gebore Nieu-Seelander, het 12 van die wenspan se punte met vier strafdoele behaal.

Met slegs die agterosse Duitsland en België wat op hom wag, is Spanje boaan die punteleer in die Europese kwalifikasiestryd, met Roemenië tweede en Rusland derde.

Hy het in 1999 aan die RWB-toernooi in Wallis deelgeneem, maar al drie sy groepwedstryde verloor.

Roemenië moet nog teen Rusland en België speel; en Rusland se ander oorblywende wedstryd sal teen Duitsland wees.

Laasgenoemde, insluitend ʼn dosyn of so Suid-Afrikaners en met twee Suid-Afrikaanse afrigters, was een van die gunstelinge om vir die RWB-toernooi in aanmerking te kom totdat die Duitse Rugbyunie (DRV) en sy vernaamste borg haaks geraak het.

Die meeste nasionale spelers is deur die borg en nie deur die DRV gekontrakteer nie, en is tot tyd en wyl die dooiepunt opgelos word (indien enigsins) nie vir die nasionale span beskikbaar nie.

Georgië het Duitsland Saterdag in Offenbach, Duitsland, met 64-0 verneder, en dit is teen die tyd so helder soos daglig dat die Duitsers sonder die spelers wat aan die organisasie van die borg, Hans-Peter Wild, gekontrakteer is, nie in staat is om op die hoë vlak mee te ding waartoe Wild se manne die land se rugby opgehef het nie.

Dit voorspel waarskynlik niks goeds vir die toekoms van die spel in Duitsland nie.

Georgië het sy plek in die Japanse toernooi reeds in 2015 bespreek, en bogenoemde kragmeting was nie deel van die kwalifikasiereeks nie.

In die ander wedstryd in dié reeks het Rusland vir België in Krasnodar, Rusland, met 48-7 oorrompel, ná sy onverwagse glips verlede week teen Spanje.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.