Vyf drieë per span, maar Bulle wen

Marco Jansen van Vuren het die Blou Bulle se eerste drie gedruk. Foto: GB Jordaan.

Tien drieë, ’n spul suksesvolle stelskoppe, maar net een wenner.

En moenie aan Survivor se temalied dink as jy bogenoemde sin lees nie; dit is eerder Steve Hofmeyr se Bloubul-treffer wat oor die luidsprekers sal dreun.

Die Pretorianers het vandag ’n vurige aanslag van die Cheetahs afgeweer om met 39 – 36 op Loftus Versfeld te wen. Sodoende sal hulle die Curriebeker-groepfase bó aan die punteleer afsluit, terwyl ’n tuiseindstryd wink indien hulle volgende naweek se uitspeelstryd kan wen.

Tog het die Cheetahs – wat maar ’n sukkelseisoen agter die blad het – lus gelyk om rugby te speel en die rustydtelling was 24-elk.

Jake White (Bloubulafrigter) het egter sy plaasvervangers slim ingespan, terwyl iemand soos Jan-Hendrik Wessels ongetwyfeld vir ekstra slaankrag in die voorry gesorg het.

Die sterk haker het twee drieë in die wedstryd gedruk en met die telling op 39 – 24 het die tuisspan waarskynlik gedink dat hulle genoeg gedoen het om die kragmeting op ’n amperse drafstappie te wen.

Ruan Pienaar in aksie. Foto: GB Jordaan.

Met ’n plek in die uitspeelrondes lank reeds nie meer vir die Cheetahs beskore nie het hulle laat in die wedstryd die bal lekker rondgegooi.

Hul avontuurlustigheid is met Cohen Jasper en Malcolm Jaer se drieë beloon en toe die tuisspan se Ruan Combrinck vir ’n hoë duikslag van die veld gestuur is, was die Cheetahs gereed om hul prooi plat te trek.

Maar die Bulle weet net hoe om Suid-Afrikaanse teenstanders te uitoorlê – kyk net na al die bekers in hul vertoonkas – en hulle het die wedstryd uiteindelik met drie punte gewen.

Daar is egter steeds dinge waaraan hulle moet werk – die Cheetahs se rolmaalbeweging het hulle veral in die eerste helfte hoofbrekens gegee, terwyl daar soms te maklik gate in hul verdediging gevind is.

  • Puntemakers:

Blou Bulle: Drieë: Marco Jansen van Vuren, Elrigh Louw, Jan-Hendrik Wessels (2) en Madosh Tambwe. Doelskoppe: Johan Goosen (4). Strafskoppe: Goosen (2).

Cheetahs: Drieë: Strafdrie, Mihlali Mosi, Duncan Saal, Cohen Jasper en Malcolm Jaer. Doelskoppe: Ruan Pienaar (3). Strafskop: Pienaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.