Vyf spanne steeds in hoofwedstryd-wedloop

Vyf spanne is na die tweede dag van die Grant Khomoweek by Grey Kollege in Bloemfontein nog in die wedloop om Vrydag in die hoofwedstryd te speel.

Die Westelike Provinsie, Suidwestelike Distrikte, die Vrystaatse vyftiental, Boland en KwaZulu-Natal is die spanne wat na Woensdag nog op koers is.

Die twee kragmetings tussen die WP en die Vrystaat en dié tussen die Blou Bulle en hulle bure, die Goue Leeus, het vir taai en ook opwindende rugby gesorg en was stellig die hoogtepunte van die tweede dag se spel.

♦  Die WP het die Vrystaat met 37-19 geklop en was in ʼn stadium 27-7 voor met goeie samespel tussen die voor- en agterspelers wat ʼn kenmerk van hulle spel was. Toe het die Vrystaat egter skielik reggeruk, die agterstand na net agt punte laat krimp, en die WP moes uithaal om voor te bly.

Hulle goeie verdediging na die einde se kant en ʼn doel en strafdoel kort voor die eindfluitjie het hierdie uitslag bepaal.

♦  Die Blou Bulle was tot reg aan die einde van hulle wedstryd teen die Goue Leeus voor, maar ʼn onverdoelde drie in die doodsnikke het die Leeus in staat gestel om met 29-elk gelykop te speel. Die rustydtelling was 19-17 in die Bulle se guns.

♦  Die Vrystaatse diepte is beklemtoon toe die Vrystaatse vyftiental met 48-24 teen die Pumas gewen het. Die Pumas, wat self vier drieë gedruk het, se gebrekkige verdediging het egter die Vrystaters toegelaat om sewe keer te gaan druk om sodoende ʼn goeie oorwinning te behaal.

Ander uitslae –

Griffons 20-24 WP XV; Luiperds 10-28 Valke; Namibië 13 KZN 46; Zimbabwe 49 Grens-platteland 0; OP 26 Griekwas 24; Boland 25 Limpopo Blou Bulle 22; SWD 32 Grens 27;

O.13-Cravenweek Donderdag (derde dag)

10:00 – KZN vs Griffons
10:00 – Griekwas vs Grens-platteland
11:00 – Valke vs Luiperds
11:00 – Pumas vs Vrystaat
12:00 – Limpopo Blou Bulle vs SWD
13:00 – Grens vs Boland
14:00 – Zimbabwe vs Namibië
15:00 – Blou Bulle vs OP
16:00 – Goue Leeus vs WP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Koos le Roux ·

Nou hoe is dit dan dat Maroela Media Grant Khomo week en ander skole rugby weke dek, maar nie die Bokkieweek nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.