Vyf Springbokke druk in Engelse Premierliga

Vyf Springbokke het agter die doellyn gaan kuier in die jongste ronde van die Engelse Premierliga.

In die wedstryd tussen Wasps en London Irish het Nizaam Carr (agsteman) die wendrie vir eersgenoemde gedruk, nadat Ashley Johnson (haker) vroeër ook ʼn drie vir dié span gedruk het.

Wasps het met 17-13 gewen.

Die Bok-skrumskakels Faf de Klerk en Jaco Reinach het onderskeidelik vir Sale en Northampton gedruk in die kragmeting tussen dié twee spanne wat Sale met 18-15 beklink het.

De Klerk het ook met ʼn doelskop en ʼn strafdoel geslaag.

Schalk Brits (haker) het net soos verlede week ʼn drie vir Saracens gedruk, maar sy span het weer verloor – die keer met 18-20 teen Exeter.

Gloucester, wat deur die Springbok Johan Ackermann afgerig word, het Newcastle met 29-7 verslaan om ses uit sy nege wedstryde tot dusver te wen. Verlede jaar kon hy net sewe uit 22 wedstryde wen en twee gelykop speel.

Nic Schonert, ʼn gewese stut van Griekwas, is in die kragmeting tussen Leicester en sy span, Worcester, met ʼn geel kaart gestraf.
Worcester kon darem met 31-27 wen.

Pro 14-reeks

In die Europese Pro14-reeks het Brandon Thomson (plaasvervanger-buitesenter) ʼn drie vir die Skotse superklub Glasgow Warriors in sy sege van 47-6 oor die Walliese streekspan Ospreys (Swansea) gedruk.

Thomson het vir SA o.20 en Superrugby vir die Stormers gespeel.

Engelse Kampioenskap

Darryl Veenendaal, Suid-Afrikaans gebore skrumskakel van Nottingham, het ʼn drie gedruk in sy span se nederlaag van 21-50 teen Bristol in die Engelse Kampioenskap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.