Vyf uit vyf vanjaar – en ook bo die All Blacks op die punteleer

Eben Etzebeth wen vir die rooigeklede Bokke nog ʼn lynstaan (Foto Twitter @Springboks)

Die eerste doel in ʼn toets is om te wen, en dit het die Springbokke Saterdagaand in Salta reggekry met spel wat van skitterend tot soms redelik middelmatig gewissel het.

Hulle het Argentinië met 41-23 geklop en met vyf drieë teenoor die tuisspan se twee  ook ʼn bonuspunt verdien.

Die Springbokke is vanjaar nou na vyf wedstryde nog onoorwonne; Allister Coetzee het as afrigter nou sy eerste wegoorwinning in sewe wedstryde behaal en die Bokke beklee, vir die eerste keer in jare, die eerste plek op die punteleer van die Rugbykampioenskap. Hulle nege ligapunte plaas hulle gelyk met die All Blacks, maar ʼn beter batige punteverskil (40 teenoor 26) plaas die Bokke bo hulle.

Argentinië was hoofsaaklik planloos en hulle dissipline het hulle weer duur te staan gekom.

Twee geelkaarte, een aan die wandelende kaartversamelaar Tomás Lavanini in die agste minuut nadat hy sonder om sy arms te gebruik getêkkel het, en een aan die agsteman Juan Manuel Leguizamón vir herhaalde oortredings, was maar net die begin.

Lavanini het na 57 minute na goeie kontinuïteit van die Bokke, die bal afgeklap en hom daarmee  ʼn tweede gele en dus ʼn rooi kaart op die hals gehaal. Dit beteken dus dat die tuisspan deur die wedstryd 43 minute met net 14 man gespeel het.

Die afklap deur Lavanini het ook vir die Bokke ʼn strafdrie tot gevolg gehad omdat daar drie man oor was om te gaan druk.

Op 31-13 het dit toe als oor in die Bokke se guns gelyk, veral met net 14 man teen hulle. Maar toe het daar weer ʼn slapte in die verdediging ingetree, Argentinië het gaan druk en Andries Coetzee het op die driedrukker Matias Moroni geduik.

Hy het ʼn geel kaart verdien en gekry, en Emiliano Boffelli het die gevolglike strafdoel van die middelkolletjie oorgeskop (31-23).

♦  Die Springbokke het ʼn hele paar keer met goeie kontinuïteit aangeval. Malcolm Marx en ʼn uitstekende Siya Kolisi was voorlangs uitstekend; Eben Etzebeth het soos altyd die vuur aangesteek; en Jaco Kriel het na harde werk in die laaste kwart pragtig ingeskakel met die bewegings wat dikwels ʼn hele paar fases geduur het.

♦  Die Poemas was goed met hulle opskietverdediging, maar dit het hulle ook sewe punte gekos toe hulle in die eerste kwart van die wedstryd nog op gelyke voet met die Springbokke meegeding het.

Dit was toe Elton Jantjies, soos deur die week ingeoefen is, ʼn volmaakte skoppie oor die Poemas se opskiet-agterlyn laat hang het wat deur Jesse Kriel uit die lug gevang is. Hy het dadelik na Siya Kolisi laat loop wat van die lynstaan af bygebly het en oopgelê het om sy eerste drie onder die pale te druk.

Daar was ook die omkeerbal op hulle eie doellyn wat die Bokke uitgebuit het en met goeie ondersteuning en oordeel oor die 100 meter vir hul vierde en Kolisi se tweede drie verantwoordelik was.

♦  Suid-Afrika se vertoning was egter alles behalwe foutloos. Francois Hougaard het, veral voor rustyd, soos Rudy Paige twee, drie treetjies gegee voor hy uitgegee het. Dit het teen die opskietverdediging druk op die Springbokke se binne-agterspelers geplaas.

Op die Poemas se doellyn het sy aangee na hierdie getrippel tot ʼn onderskepping gelei wat 90 meter verder deur Courtnall Skosan se vaart gered is.

Die grootste sonde het egter gekom net nadat die Jantjies die voorsprong na 27 minute na 10-3 met ʼn strafdoel gerek het. Die Poemas het afgeskop, en met ʼn onaanvaarbare gebrek aan kommunikasie het geen Springbok verantwoordelikheid vir die vang van die bal aanvaar nie,

Die bal het reggespring en die Argentynse regtervleuel Ramiro Moyano het op sy gemak gaan druk.

♦  Argentinië het eintlik nie genoeg goeie besit gehad nie, veral nie wanneer hulle op die aanval was nie; hulle was eendimensioneel en planloos, en het die grootste deel van die wedstryd in hulle eie gebied deurgebring.

Dan het die Poemas ook te veel strafskoppe afgestaan. Voordat hulle dit, en hulle geel (en rooi) kaarte, begin beperk sal hulle nie ʼn rugbykrag word nie.

Puntemakers –

Argentinië (10) 23: Drieë Ramiro Moyano, Matias Moroni. Doelskoppe: Juan Martin Hernandez. Strafdoele: Emiliano Boffelli, Hernandez, Sanchez.
Suid-Afrika (17) 41: Drieë: Siya Kolisi 2, Elton Jantjies, strafdrie, Jean-Luc du Preez. Doelskoppe: Jantjies 4. Strafdoele: Jantjies 4.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Lukie Carelsen ·

Die Bokke bo die All Blacks op die punteleer? Wat ‘n grap! Die Bokke het nog nie eens teen die All Blacks of die Wallables gespeel nie! Tipies Suid Afrikaanse snert! Begin nou al die lofsange sing van ‘n bokspan wat regtig sukkel ek bedoel SUKKEL. Ons her soveel talent maat verkeerde spelers word gekied om die kwotas te bevredig en beter spelers word oor uitgelos. Totdat die probleem nie op politiese vlak uitgesorteer is nie speel om
ons met ‘n tweede rangse afgewaterde rooiribbokspan! Vat die springbokembleem en vervang hom met die hamer en sekel asb.en nowm hulle die ANC rooibokkies. Of skrik wakker en verwyder enige vorm van ras voorkeur of kwotas uit die springbokspan en di ehele wereld ondersteun ons! “The choice is yours”

·

Die bokspan is nowhere , hulle lyk sleg in Rooi en speel so sleg soos hulle lyk. Haal asb die arme Springbok af julle verneder hom! Vervang hom sommer met n driepoot pot, die All Blacks gaan julle soos n mielie eet!!!!!!!

Jakoba ·

Nee hulle lyk soos die EFF rugby span in daai simple rooi pakkies. Sit Malema se kop daarop, hy is die nasionale blom op die trui.

Hanna ·

Ag nee Lukie, gee die bokke wat hulle toekom. Mooi bokke ons staan agter julle. Rooi truie of te not julle bly bokke !!!!!!!

Frans C ·

As die Bokspan weer sulke insinkings toon gaan beide die All Blacks en Wallabies hul maklik klop.

Vermaak mag dalk 31 jaar oud wees maar hy is volgens my strate beter as Hougaard en Paige.

phillip ·

Stem saamdie spring bok is groen en gout, geen ander kleur is aanvaarbaar. Ons praat weer na hulle die All Blacks gespeel het. Daar kan jy nie wipplank rugby speel nie.

danie ·

Nie makilik om Argentinie met amper 20 punte in Argentinie te klop nie, hulle speel maar ‘n negatiewe spel meeste van die tyd. Op na die derde plek op die ranglys nou. Aussies die volgende toets, sal interessant wees nadat hulle ongelukkig was om teen die AB’s te verloor..

Jj ·

AC se 1e werklike toets kom wanneer die Rooobolke teen NZ speel. Dis nou al ñ jarelange probleem dat die rooibokke hulself as wêreld kampioene beskou na 1 of 2 wenne teen derderangse spanne. Die All Blacks gaan hulle vermorsel!

SjN ·

Die rooi kaboutermanne van Saterdag sal nie met hul huidige spelpatroon die all blacks kan klop nie.

Tiger ·

Ek is verheug oor die rooi klere!Hulle is nie die Groen en Goud en Springbok embleem werd nie.Die EFF kleur pas hulle perfek.SARU hou asb die rooi kleur.

Hans ·

Solank die geld reg is sal hulle in enige kleur speel.Mammon bult sy spiere en hulle val daarvoor.

Voorlaaier ·

Klop vir Australia en All Blacks dan praat ons weer……. Gemeet aan di wereld se top spanne.

Sjoe ·

Eks tem nie noodwendig saam met die berig skrywer, maar om die Sprinkbok span so te beledig is totaal onnodig en dit oor ‘n rooi trui waaroor hul geen keuse het. Die doel van die trui is verduidelik en ten minste doen hul iets spesiaal vir die span. Wat die span aanbetref, hulle het Saterdag goed gespeel en goed gewen! Australie & die All Blacks is beslis iets om mee rekening te hou en net so ook die Springbokspan, hoe kan ‘n span met selfvertroue die 2 reuse pak met sulke support, nee sies skaam julle en klim agter die bokspan in.

Sjoestoggies ·

Hulle het lankal reeds hul aanspraak op “support” verbeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.