
Die Blitsbokke het gisteraand hul vyfde agtereenvolgende sewestoernooi gewen. Foto: Twitter via Springbok Sevens.
Vir die vyfde agtereenvolgende internasionale sewesrugby-toernooi het die Blitsbokke met die silwerware van die veld gestap.
Die Suid-Afrikaners se spogvertoning in gisteraand se bekereindstryd was net weer eens ’n klinkklare bewys dat ’n suksesvolle span hom nie veel aan die vreemde (’n splinternuwe toernooi in Spanje) óf begeesterde teenstanders (Argentinië) steur nie.
Want in Selvyn Davids beskik die Suid-Afrikaners oor ’n vaartbelynde bul wat enige matador op die agtervoet sal plaas.
Die 27-jarige speler van Humansdorp het met sy merkwaardige versnellingsvermoë en goeie afrondingswerk gesorg dat die Suid-Afrikaners uiteindelik die septer in die doodsnikke van die eindstryd kon swaai.
Die eindtelling was 24 – 17 in die Blitsbokke se guns en die vreugdevure het hoog gebrand.
“Dit is nooit maklik om teen Argentinië te speel nie; hulle is ’n vurige span wat altyd probeer om jou op die veld te ontwrig,” het Neil Powell (afrigter) ná die eindstryd gesê.
“Tog is ons baie dankbaar om as die kampioenspan van die veld te stap. Ons moes vir elke punt op die veld baklei en dit laat die oorwinning selfs soeter smaak.”
Volgens Powell het hy geweet dat sy spelers oor die wilskrag en die nodige woema beskik om enige tyd ’n teenaanval te loods.
“Die span toon baie karakter, hulle speel vir mekaar en dan praat ’n mens nie eens van hul X-faktor nie. Jy verwag dit amper van hulle om ’n agterstand op die telbord uit te wis.”
- Puntemakers:
Suid-Afrika: Drieë: Selvyn Davids (2), JC Pretorius en Justin Geduld. Doelskoppe: Branco du Preez en Geduld.
Argentinië: Drieë: Joaquin de la Vega (2) en Rodrigo Isgro. Doelskop: Felipe del Mestre.
- Hoe sake tans op die punteleer staan:
- Suid-Afrika: 66 punte
- Argentinië: 53 punte
- Australië: 47 punte
- VSA: 42 punte
- Frankryk: 36 punte
- Ierland: 31 punte
- Engeland: 26 punte
- Fidji: 24 punte
- Kenia: 23 punte
- Spanje: 22 punte.
The moment that mattered
Scoreboard locked at 17-17. Extra time looming. And then Selvyn Davids did this#HSBC7s | #Spain7s | @Blitzboks pic.twitter.com/LHwqOJJTtM
— World Rugby Sevens (@WorldRugby7s) January 23, 2022
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
11 Kommentare
Geluk blitsbokke, ook maar net net.
Sewes rugby geld mors storie gaan 15 tal toe dan kan jy jou staal wys.Dan verdien jou geld
Pragtig Blitsbokke!!!
In die land van die blindes is eenoog koning! Geen All Blacks of Fidji nie
Ek is ‘n sportentoesias en kyk baie graag na die Blitsbokke se wedstryde. Hierdie span is ‘n goeie afvertensie vir Suid-Afrika in die buiteland!