Vyftien punte vir gewese Cheetah in Frankryk

ʼn Gewese Cheetahs-speler het 15 punte vir sy Franse klubspan in ʼn sege van 20-5 in die jongste ronde Europese klubrugby aangeteken, en ʼn Namibiër die res.

Voorts het talle Suid-Afrikaners hul merk in die reekse om die Europese Kampioenebeker, die Europese Uitdaagbeker en die Kontinentale Skild gemaak.

In die Franse Pro D2-liga het Willie du Plessis (losskakel) ʼn drie, twee doelskoppe en twee strafdoele tot Bayonne se sege oor Montauban bygedra.

PJ van Lill (agsteman), wat Namibië al in 45 toetse verteenwoordig het, het die wenspan se ander drie gedruk.

Europese Kampioenebeker

♦ In die Engelse klub Harlequins se sege van 33-28 oor sy landgenoot Wasps, het die Springbokke Nizaam Carr (agsteman) en Ashley Johnson (haker) Saterdag elk ʼn drie vir die verloorspan gedruk.

♦ Nóg ʼn Bok, Jaco Reinach (skrumskakel), het ʼn drie vir die Engelse klub Northampton in sy sege van 34-21 oor sy Franse eweknie Clermont Auvergne gedruk.

♦ Die Engelse klub Exeter se Zimbabwies-gebore flankpaar, Dave Ewers en Don Armand (ʼn gewese Stormers-speler), het elk ʼn drie gedruk in sy sege van 41-10 teen die Franse Montpellier Herault.

♦ Die gewese Stormers-slot Jean Kleyn, wat die afgelope dag of wat in die nuus was toe hy gesê het hy sal eerder vir Ierland as vir die Springbokke wil speel, het Munster se eerste drie gedruk in die Ierse provinsie se wedstryd teen Racing 92.
Die Franse het op die ou end met 34-30 gewen.

♦ Brendon Thompson (plaasvervanger-losskakel), ʼn gewese SA o.20- en Stormers-speler, het ʼn doelskop vir die Glasgow Warriors in die Skotte se nederlaag van 19-55 teen die Ierse provinsie Leinster behaal.

♦ Die gewese Sharks-senter Paul Jordaan het vroeg-vroeg sy kans van die bank af gekry toe die Franse klub La Rochelle se regtervleuel binne tien minute teen die Ierse provinsie Ulster beseer is, maar skaars 12 minute later ʼn geel kaart op die lyf geloop. Die Iere het die kans benut om die eerste drie van die wedstryd te druk.

Ulster het die kragmeting met 20-13 gewen.

Europese Uitdaagbeker

♦ In die reeks om die Europese Uitdaagbeker het Marco Kotzé (flank) en Johann Sadie (plaasvervanger-binnesenter) Vrydag elk ʼn drie vir Agen in sy nederlaag van 24-45 teen die Engelse klub Gloucester gedruk.

Kotzé het Vodacombekerrugby as vleuel vir die Goue Leeus gespeel voordat hy flank toe geskuif het om die Valke in dié posisie in die reeks om die Curriebeker te verteenwoordig. Hy het ʼn paar jaar in Australië gespeel voor hy hom in 2015 by Agen aangesluit het.

Sadie het Superrugby vir die Stormers, die Bulls en die Cheetahs gespeel voor hy ʼn draai in Japan gemaak het.

♦ Craig Burden (plaasvevanger-haker) het Saterdag sy deel gedoen om Stade Français in die prentjie te hou, maar Edinburgh het op die ou end die wedstryd tussen dié twee spanne met 34-33 gewen.

Dit het gelyk of die Franse die knoop kan deurhak toe Burden, ʼn gewese Sharks-speler, vyf minute voor die einde ʼn drie gedruk het wat Stade met 33-27 laat voorloop het. Die Skotte was egter nie daarmee gediend nie en het die kragmeting met ʼn doel beklink.

Jaco van der Walt (losskakel), wat Superrugby vir die Lions gespeel het, het vroeër van die Franse se 22-meterlyn af vir ʼn drie deur die verdediging gevleg. Hy het ook ʼn strafdoel vir die Skotte behaal.

♦ Sarel Pretorius (skrumskakel) en Carl Meyer (plaasvervanger-heelagter) het elk ʼn drie vir Newport Gwent Dragons gedruk, maar kon nie keer nie dat die Franse klub Bordeaux-Bègles die Walliese streekspan met 36-28 troef.

Pretorius wat Superrugy vir die Cheetahs gespeel het, het die Opkomende Springbokke verteenwoordig; en Meyer is in Pietermaritzburg gebore.

♦ Die Bok Cheslin Kolbe (regtervleuel) het Toulouse se enigste drie gedruk in die Franse klub se nederlaag van 13-18 teen die Walliese streekspan Cardiff Blues.

Kontinentale Skild

♦ In een van die eerste ronde uitspeelwedstryde van die Kontinentale Skild het die Duitse klubkampioen, Heidelberg, verrassend vir Calvisano, Italië – ʼn Sesnasiesland – se kampioen met 34-29 verslaan.

Raynor Parkinson (binnesenter), wat vir die Universiteit van Johannesburg gespeel het, het 14 van Heidelberg se punte behaal, en sy span se een drie met ʼn perfekte dwarsskop opgestel.

Heidelberg het ʼn stuk of tien Suid-Afrikaners in sy 23-tal gehad, onder wie die flanke Jaco Otto en Sebastian Ferreira, wat met geel kaarte gestraf is.

♦ In die ander wedstryd het ʼn skepdoel deur Jody Rose vir Timosoara Saracens (Roemenië) gehelp om Batumi (Georgië) met 11-6 te klop.
Rose het die Opkomende Springbokke verteenwoordig, en later toetsrugby vir Roemenië gespeel.

Die uitspeelwedstryde word op ʼn tuis-en-weggrondslag beslis, en die skildwenner kom vir deelname aan die reeks om die Europese Uitdaagbeker in aanmerking. Die Roemeense kampioen het verlede jaar aan dié reeks deelgeneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.