Waar is Malcolm Marx?

Malcolm Marx (Foto: Twitter)

ʼn Mens wonder of die samestellers van die “Top100-rugbyspelers van die jaar” die Springbokhaker Malcolm Marx in 2017 aksie gesien het.

Hulle meen nie hy is onder die 20 bestes nie en word 35ste geplaas.

Daar was aan die begin van 2017 in Suid-Afrika kommer oor die no.2-trui nadat Adriaan Strauss aan die einde van die Europese toer in 2016 uit internasionale rugby getree het.

Wie sou hom opvolg? Bongi Mbonambi, Chiliboy Ralepelle, Marx of Franco Marais?

Daar was selfs sprake dat die voelers na die veteraan Bismarck du Plessis by die Franse klub Montpellier uitgesteek sou word.

Ja, Marx het wel met sy ingooiwerk in die lynstane in van sy vroeë toetse gesukkel, maar deur toewyding en harde werk is dié probleem hopelik uitgekakel, want dit was sy enigste ooglopende leemte.

Hy was die gom wat die Springbokpak aanmekaar gehou het met sy kragvertonings in vier toetse teen die Franse. Hoe hy byna man alleen die All Blacks-voorspelers in die Rugbykampioenskap-toets op Nuweland besig gehou het. Hoe hy vir Guilhem Guirado (Frankryk), Dane Coles (All Blacks), Stephen Moore en Tatafu Polota-Nau (Australië) en Agustin Creevy (Argentinië) in die skadu gestel het.

Hy was beter was as Engeland se Dylan Hartley en Jamie George, beter as Ierland se Rory Best.

Dis hoekom Suid-Afrikaanse ondersteuners warm onder die kraag is omdat hy nie die nodige erkenning kry nie, veral nie nadat die gesaghebbende tydskrif Rugby World ʼn lys van sy top100-spelers bekend gemaak het.

Dis nie net oor Marx nie, ook oor ander spelers word daar vrae gevra.

In Nieu-Seeland word daar kop geskud omdat die Engelse losskakel/senter Owen Farrell bo die All Black-losskakel Beauden Barrett as die top-speler van die jaar gekies is. Barrett is deur Wêreldrugby (wat ‘n hele paar oud-spelers en kapteins op sy paneel ingesluit het), as sy speler van die jaar aangewys.

Die Iere vra tereg vrae hoekom daar net sewe Iere in die top100 is en hoekom losskakel Jonathan Sexton slegs 12de geag word.

Ook kan gevra word hoe die Engelse slot Courtney Lawes (17de) die top20-lysie bo Eben Etzebeth en Pieter-Steph du Toit kon haal.

Ook hoe daar by agt Wallabies tussen die top100 uitgekom is. Die Wallaby-losvoorspeler David Pocock is as die 41ste beste speler uitgesonder.

Maar hy het dan ʼn sabbatsjaar geneem en net een of twee keer in Japan gespeel . Wat dan van Naas Botha en Dok Craven?

Ook hoe die middelmatige Bernard Foley (46ste) en Matt Toomua (60ste) die lys kon haal, laat die bloeddruk opstoot.

Maar die weglating van Marx uit die top20?

Hy is die beste van die Bokke en is 35ste op die lys; Siya Kolisi is 43ste, Eben Etzebeth 63ste en Duane Vermeulen 76ste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hennie ·

Geen probleem met geen SA speler in die top 20 nie, Marx het dalk twee of drie goeie wedstryde gehad en PSDT word uit posisie gespel, wat Eben betref dalk die sesde/sewende ?beste slot tans in wereld.

Callie ·

Kom tog. Met kwota standaarde wil ons opgewonde raak as n ou 2 of 3 goeie games het. Maak naam oor 2 seisoene, dan praat jy

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.