Waar is Pienaar en Smit op joernaliste se lys?

John Smit. Argieffoto.

Die bloeddruk het verlede week erg gestyg toe twee ervare joernaliste van die Londense Sunday Times, Stuart Barnes (oud-Engelse losskakel) en Stephen Jones, hul lysies van die 10 beste kapteins opgestel het.

Vanuit die staanspoor was dit subjektief, want nie een van die twee het Francois Pienaar of selfs John Smit bygevoeg nie, hoewel Siya Kolisi se naam hoog op elke lysie verskyn.

Al drie het immers die Webb Ellis-trofee ná Wêreldbekerglorie omhoog gehou. Al drie was immers in Curriebeker-wenspanne (toe dit nog saak gemaak het), al drie het die All Blacks, Wallabies, Engeland en Wallis geklop. Al drie het baie tot eenheid bygedra.

Jones en Barnes se lysies is opgestel om belangstelling te behou, om reaksie uit te lok en sekerlik om die lesers aan die praat te kry, wat hulle wel reggekry het.

Maar wat lagwekkend is, is dat Jones (hy is ʼn Wallieser) nie die All Black Richie McCaw ingesluit het nie, want volgens hom kon sy oumagrootjie ook die All Black-spanne waarmee McCaw soveel sukses behaal het, aangevoer het.

Maar hoekom sluit hy dan vir Sean Fitzpatrick in? Wanneer het hy sukses in die WB geproe?

Soos Jones tereg sê, my oumagrootjie kon ook die All Black-span van 1995 aangevoer het.

Jones se Walliese onderklere hang lelik uit, want hy het Alun Wyn Jones as sy beste kaptein aangewys en twee Franse, Jacques Fouroux en Jean-Pierre Rives, ingesluit.

nelson-mandela-en-francois-pienaar

Nelson Mandela en Francois Pienaar. Argieffoto.

Kom ons vergelyk Pienaar, Kolisi en Smit met mekaar.

Pienaar se wenpersentasie in 29 toetse was 68,06%, dié van Kolisi 66,66% in 50 toetse en Smit 63,06% in 111 toetse.

Pienaar se wenpersentasie in WB-wedstryde was 100%, dié van Smit 82,31% en Kolisi 77,77%.

Onder Pienaar het die destydse Transvaal die Super 10-reeks gewen, die Curriebeker- en die Lionbeker omhoog gehou. Trofeë vir M-Net se aandreeks en ʼn rits ander pryk ook in Ellispark se trofeekaste.

Die Bokke het onder hom ʼn wenpersentasie van 30% teen die All Blacks gehad, 50% teen Australië, 66,66% teen Engeland en 100% teen Wallis.

Smit se wenpersentasie teen die All Blacks was 38,09% (hy was agt keer aan die wenkant), teen Australië 43,75%, Engeland 54,54% en Ierland 50%.

Onder hom het die Bokke die Rugbykampioenskap gewen asook die Britse en Ierse Leeus geklop.

Ja, my oumagrootjie kon ook van dié Bokspanne aangevoer het en Bismarck du Plessis was dalk ʼn beter haker, maar gun Smit wat hom toekom.

Siya Kolisi word deur sy spanmaats gelukgewens na sy pragdrie teen die Hane op Kingspark in Durban op 17 Junie 2017. Foto: GB Jordaan

Kolisi het twee keer teen Argentinië verloor en sy wenpersentasie teen die All Blacks is slegs 14,28%, teen die Wallabies 66,66%, Engeland 60% en Ierland 50%.

Maar hy het hy ʼn goue WB-medalje en as gewilde kaptein en nasiebouer het hy nie sy gelyke nie.

Barnes se lysie: 1 Richie McCaw (NS), 2 Martin Johnson (Engeland), 3 Jacques Fouroux (Frankryk), 4 Siya Kolisi (SA), 5 Sean Fitzpatrick (NS), 6 Jean-Pierre Rives (Frankryk), 7 Alun Wyn Jones (Wallis), 8 Andrew Slack (Australië), 9 Agustín Pichot (Argentinië), 10 Maro Itoje (Engeland).

Jones se lysie: 1 Alun Wyn Jones (Wallis), 2 John Dawes (Wallis), 3 Martin Johnson (Engeland), 4 Sean Fitzpatrick (NS), 5 Lawrence Dallaglio (Engeland), 6 Siya Kolisi (SA), 7 Agustín Pichot (Argentinië), 8 John Eales (Australië), 9 Thierry Dusautoir (Frankryk), 10 Haralambie Dumitras (Roemenië).

Pieter Kruger se lysie: 1 Richie McCaw, 2 Francois Pienaar, 3 Siya Kolisi, 4 John Smit, 5 John Eales, 6 Martin Johnson, 7 Willie John McBride 8 Morné du Plessis, 9 Naas Botha, 10 Philip Nel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johan Venter ·

Pieter, ek soek maar kan nie agterkom van watter jaar se kapteins by die lysie ingesluit is nie, want dit is inderdaad ‘n lysie. maar nou’ja daar was ook maar nie veel ander noemenswaardig Springbokkapteins wat in daardie tyd in ag geneem kan word nie. Daar moet eerder gevra word of hulle die beste kaptein was. Na my beskeie mening, in al drie Smit, Pienaar en Kolisi se geval …. nee.

Maar dan sou ek graag wou sien dat jy ‘n lys opstel, van no 1 tot 10, van die beste Springbokkapteins wat ons nog gehad het, dit nou te alle tye. Dit is nou as jy deur sê die 20 beste kapteins sou sif. Dan sal ek ook graag wil sien watter kriteria gebruik is met die meting en watter gewig aan elkeen, per kategorie, toegeken is, met dan die totale punt wat ook die no 1 – 10 op die lysie sal bepaal.

Pieter ·

Daar is manne soos Avril Malan, Johan Claasen,Nelie Smit ens wat in aanmerking geneem moet word.

Johannes ·

Ek raak so moeg om polities korrek te wees. Kolisi is beslis nie een van die bestes wat RSA al ooit opgelewer het nie.

MakersMark ·

Pienaar beste, Smit tweede beste bok kapteine ooit. Kolisi is nie een van die beste nie, eerder Pollard en Vermeulen het volgens my die span gelei wat die 2019 wereldbeker gewen het. Ander wereld klas kapteine Wynn-Jones, McCaw, Jean-Pierre Rive, Willie John McBride, Moet nie Phil Mosterd en Basil Kenyon van weleer vergeet nie.

Johan Venter ·

Kom ons wag vir Pieter Kruger se evaluasie met kriteria en al die name van die kapteins soos ek hier bo voorgestel het. Maar dit sal interessant wees as jy intussen die oefening kan doen en jou resultate met punte vir elke kategorie waaraan jy elkeen van hulle gemeet het hier plaas.

Pieter ·

Schalk, Jou stelling is 100% korrek. Die wat weet sal en wil nie praat nie. Ek sal nie my veel steur aan die persone wat die lys opgestel het nie. Hulle het in elk geval nie juis wonderlik presteernie.

Namib ·

Nee kêrels, julle moet onthou, Kolisi het man alleen die beker verower. Dis nou volgens SA media en spesifiek M Net – as mens na hulle luister was Kolisi alleen op die veld.

Pieter ·

En hy het slegs sy knie beseer! Wat van die periode toe hy ook van die veld af was?
Wat my tref is dat van die senior spelers nie by die wereldbeker prys uitdeling was nie. En ek praat nie van Faf en Schalk nie. Maak maar julle eie afleiding.

Johan Venter ·

Dit lyk my in die dae van die Nuwe Suid-Afrika is dit die veiligste om politiek en die lewendes ter wille te wees. Die geheues is maar kort. En hier en daar was ‘n ou wie nie twee dae na die eindstryd van die WB kon wag nie om te verklaar dat Kolisi ‘se Bokke’ was die beste bokspan ooit, en toe plaas hy Pienaar ‘se Bokke’ nr 2. Dit sal ook dan nogal gepas wees as julle ander ouens hier op die forum van julle daaromtrent kan laat hoor, Bokspan 1 – 10 in die geskiedenis, en die kriteria waaraan gemeet? Natuulik moet die Bokkaptein van daardie span genoem word.

Ek verneem graag. Pieter Kruger, wil jy nie ook so ‘n lysie vir ons opstel nie met die waaroms, redes ens jy daardie spanne kies?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.