Waar is Suid-Afrika se agtstemanne?

Warren Whiteley (Foto: Steval Pumas)

Springbokrugby het nog altyd baie goeie spesialis-agtstemanne gehad, maar nou lyk dit of die produksielyn opgedroog het.

Dink maar terug aan Hennie Muller, Morné du Plessis, Wynand Claassen, Gary Teichmann, Bob Skinstad, Pierre Spies en Duane Vermeulen.

Dit was nog altyd een van die Bokke en die All Blacks (Brian Lochore, Murray Mexted, Zinzan Brokke en nou ook Kieran Read) se sterkpunte. Vinnige, fisieke en balvaardige agtstemanne met die regte voorgevoel, wat kan hanteer, duikslae uitvoer en balle vang, die regte skakel tussen die voor- en agterspelers, wat op die regte tyd terugval om die agterste driehoek te help.

Maar noudat Warren Whiteley en Vermeulen van langtermyn-beserings en operasies herstel, word daar van versoolde flanke gebruik gemaak.

Die vraag is: Wie gaan saam met die Bokke toer wanneer hulle aanstaande maand teen Ierland, Frankryk, Italië en Wallis te staan kom? Jean-Luc du Preez, Francois Louw en Daniël du Preez?

In die afwesigheid van Vermeulen en Whiteley is Uzair Cassiem, Jean-Luc du Preez en Louw uit amperse noodweer op agtsteman ingespan, maar dit is nie die antwoord nie, want jy kan jou vingers in die Noordelike Halfrond verbrand.

Cassiem het van sy gebreekte rib herstel en is beskikbaar, maar wat van die tweede agtsteman?

Moet daar dan teruggeval word op Nizaam Carr, wat sedert 2014 in net vyf toetse gespeel het? Wat van Kwagga Smith, wat ook ʼn flank is?

Die oud-Bokafrigter Kitch Christie het in 1995 in die Wêreldbekertoenooi gewaag toe hy Mark Andrews van slot na agtsteman geskuif het. Dit het wonderbaarlik vir een of twee wedstryde gewerk, maar Andrews is gou hierna na sy regmatige posisie herskuif.

Is ons spens werklik so leeg?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

m.d.r. ·

Die skrywer raak hier aan die kern van die problem—VINNIGE LOSVOORSPELERS…!

Spoed, en nogmaals spoed is die naam van die rugby van vandag. Jammer maar met die toets teen die All Blacks op Nuweland kon dit ‘n heel ander storie gewees het as die lostrio vinniger by die afbreekpunt was, Genadiglik het ons darem vir Malcolm Marx daar gehad—eintlik was hy die enigste losvoorspeler aan die Bokke se kant….
Dink net wat kon gebeur het as Whiteley, Jaco Kriel daar was sam met Marx…. maar nouja, die beserings het ons sleg gekortwiek.
Ek dink ook ons spens is bra leeg—–tensy SA rugby sy afrigting gaan wysig en wegdoen met die krag/stamp-en stoei rugby…..

Callie ·

Dit is oor agtsteman ook nou n voorkeur posiasie word vir kwotas. As enige Uzzair Cassiem as toetsgehalte sien moet jy weet daar is probleme.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.