Waar sal Bulls hul afrigter kan gaan soek?

Rassie Erasmus. (Foto: Twitter/ @Springboks)

Dis nie net die Suid-Afrikaanse spelers wat oorsee woel nie. Die lysie van Suid-Afrika se heel voorste afrigters wat hul brood in die buiteland verdien, sorg vir interessante leesstof.

En intussen sit drie van ons vier Superrugby-spanne in ʼn onsekere situasie betreffende die hoofafrigter met die voorbereiding vir die Superreeks wat oor ʼn maand begin. Boonop kom daar uit Bloemfontein geluide dat Franco Smith ongelukkig is en sy kop na die Bulls toe staan.

♦  By die Lions kan ʼn mens verwag dat Swys de Bruin weer by die Springbokke betrokke sal wees voor en tydens die jaareindtoer. By die Stormers is daar ook nog nie ʼn aanstelling gedoen nie, maar sal dit darem seker een van die twee plaaslike manne, Robbie Fleck of John Dobson, wees; en dan is daar die Bulls, waar daar nog niemand op die horison is nie.

Rassie Erasmus, in sy hoedanigheid as direkteur van afrigting by SA Rugby, gaan glo die Bulle onder hande neem totdat die franchise se nuwe afrigter aangekondig is.

Sy betrokkenheid mag selfs vir ʼn langer tydperk wees, na gelang van die ervaring en beskikbaarheid van die man wat die leisels sal vat.

♦ Met die spul afrigters wat in die buiteland hul brood verdien, het Suid-Afrika darem in Erasmus ʼn afrigter wat met die uitgedunde spelerstal in Suid-Afrika ʼn geskarrel in die Nieu-Seelandse duiwehok veroorsaak het. Hy werk duidelik met ʼn plan.

Verder is gehalte-afrigters in Suid-Afrika maar taamlik dun gesaai. Wie sal by Erasmus kan oorneem as dit moet?

Oorsee sit ons egter met ʼn hele klomp Suid-Afrikaanse afrigters wat op internasionale vlak afgerig het. Die Bulls het dit duidelik gemaak dat hulle ʼn plaaslike (Suid-Afrikaanse) afrigter soek, met die klem daarop om seker te maak van wanneer af hy in Pretoria sal kan inval.

Hieronder is ʼn lysie van die afrigters wat Suid-Afrikaanse spanne op nasionale vlak afgerig het.

‒ Jake White, nou in Japan, het as afrigter die Wêreldbeker in 2007 en die Drienasiesreeks in 2004 gewen.
‒ Peter de Villiers se span het die Britse Leeus in 2009 se toetsreeks geklop en het dié jaar ook die Drienasies-reeks gewen.
‒ Heyneke Meyer, nou by Stade Français, het met die bronsmedalje in die laaste Wêreldbeker huis toe gekeer.
‒ Dawie Theron, ʼn gewese Junior Springbok-afrigter, het die Junior Bokke in 2012 tot die titel in die o.20-Wêreldkampioenskap gebrei en vir ʼn operasie uit Japan teruggekeer. Hy is nou die Boland voorspeler-konsultant.
‒ Johann van Graan is die hoofafrigter van een van Europa se voorste spanne, Munster in Ierland.
‒ Alan Solomons is die direkteur van afrigting by Worcester en was Nick Mallett se assistent-afrigter by die Bokke.
‒ John Plumtree, wat oor ses seisoene uitstekende werk by die Sharks gedoen het, was Ierland se voorspeler-afrigter toe hulle die Sesnasiesreeks in 2014 die eerste keer in 29 jaar gewen het. Plumtree rig die Hurricanes aanstaande jaar in die Superrugby-reeks af.
Plumtree het die Blitsbokke verteenwoordig, sowat 14 jaar hier gespeel en afgerig en sy vrou is Suid-Afrikaans.
‒ Gary Gold is hoofafrigter van die VSA se span wat Wêreldbeker-toernooi toe gaan.
‒ Johan Ackermann is die hoofafrigter by Gloucester.
‒ Loffie Eloff, wat die Wêreldtitel vir o.19-spanne as afrigter gewen het, is in  Amerika selfs genoem as ʼn moontlike nasionale afrigter ná sy goeie werk met die Austin Huns.
‒ Dan is daar ook nog Allister Coetzee, wat die Bokke twee jaar afgerig het.

Sal die Bulls by een van dié groep gaan aanklop? Sal van hulle beskikbaar wees en indien wel, wanneer? Of sal hulle hul man gaan soek net by die afrigters wat tans in die land afrig?

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vreemd ·

Ek verstaan nie, Jimmy Stonehouse is gereed en stel erg belang om afrigter by die bulle te word, hy het homself telkemale bewys, goeie afrigter met hope ervaring en kennis, regte balans, die spelers respekteer hom, kyk net wat hy met die pumas gedoen het. Hoekom gaan soek vir n afrigter/ Of is hierdie nou weer een van daai gevalle waar kleur ter sprake kom, nee wat, ek sien die bulle gaan net al hoe meer ondersteuners verloor as dit die geval gaan wees, luister bietjie na julle ondersteuners ook, dis immers hulle wat julle geld koffers help vol hou.

BloedNieMeerBlouNie ·

Die afgelope paar jaar us die BBRU stelselmatig afgebreek tot in die modder in. Afrigting is nie die kern probleem nie. Maak maar jul eie afleidings. Is ek verkeerd? Hoekom is die Bulle dan die bespotting van die land?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.