Waar was hierdie Sharksspan nog die hele tyd?

Waar was hierdie Sharksspan wat die Jaguares Saterdagaand 33-25 in Buenos Aires geklop het tot nou toe die hierdie seisoen?

Hulle het gehardloop, maar dit met oorleg gedoen. Die vaste vyf het gewerk en gewoel en, regtig, gelyk soos ʼn Nieu-Seelandse span met hulle hantering en besluitneming; Curwin Bosch was weer baie goed op losskakel; en Michael Claassen, nou reeds 34, het soos Jano Vermaak van die Stormers gewys dat die land se jonges by hulle kan kom kers opsteek oor skrumskakelspel.

En les bes, die Sharks het met die oorwinning sy plek op die punteleer bo die Jaguares na agt punte gerek.

As daar kritiek is, is dit dat die KwaZulu-Natallers se agterlyn nog nie daardie ritme het wat ʼn mens by die Nieu-Seelandse spanne sien nie. Tog het hulle vleuels, Lwazi Mvovo en Odwa Ndungane, heelwat hardloopkans gekry en ook oral opgeduik om te help keer en ondersteun. En klein Rhyno Smith het weer van agter af aan’ t hardloop gegaan en afgetrap soos in sy dae by die Pukke.

Dit het na die gemors wat die Sharks teen die Rebels opgedis het hard praat van die afrigter Robert du Preez en ook ʼn spul spanveranderinge gekos. Maar dit lyk of die spelers se koppe nou reg is, en ook of Du Preez raakgevat het.

As hulle só gaan speel, wag daar swarigheid op hulle teenstanders.

Laastens moet ʼn mens ook krediet aan die Jaguares gee, wat in hierdie vyfde tuiswedstryd die eerste keer vanjaar verloor het. Hulle het, miskien nog meer as die Sharks, die bal die werk laat doen en help sorg vir een van die beste en lekkerste wedstryde van die jaar.

Puntemakers –

Sharks (20) 33: Drieë: Philip van der Walt, Etienne Oosthuizen, Thomas du Toit. Doelskoppe: Curwin Bosch 3. Strafdoele: Bosch 4.
Jaguares (20) 25: Drieë: Joaquin Tuculet, Matías Orlando, Bautista Ezcurra. Doelskoppe: Nicolás Sánchez 2. Strafdoele: Sánchez 2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Chris ·

Uiteindelik, die afgelope paar seisoene het ek nie vir die Haaie geskree nie, maar op hulle. Lyk my ek sal nou my deuntjie moet verander. Hoog bleddie tyd ook. In my jonger dae wou hulle gehad het ek moet vir die Haaie speel. Ek het geweier want hulle het altyd te vroeg of te laat gespeel. Soos gisteraand, wie speel nou amper tien uur in die aand rugby?

Scalla ·

Dit is vandat die afrigter gese het hul behoort die rugby ondersteuner se toegangsgeld terug te betaal, slaan die wat lui wegsteek met die tjekboek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.