Waar was Stormers se ondersteuners?

Nuweland-Foto-www.cape-town-tourism.za_.net_.jpg

Nuweland (Foto: www.cape-town-tourism.za.net)

Laat `n Suid-Afrikaans span nou net swak vaar en die vingers word gewys na ondersteuners wat hulle spanne kwansuis verloën as dié nie goed vaar nie deur van wedstryde weg te bly. Nou wonder `n mens wat Saterdag by die Stormers verkeerd gegaan het.

Hulle was immers die wenners van die Suid-Afrikaanse groep en is dusver ondersteun soos letterlik geen van die ander 14 spanne in die Superreeks nie.

Groot stukke van die pawiljoen was Saterdag leeg toe die spanne opdraf. Dit was nog meer so hier na die einde se kant toe soos die ontnugterde ondersteuners voor die eindtoeter huis toe gestroom het.

Laasgenoemde is verskoonbaar, maar `n mens het ál die indruk gekry dat die Stormers se ondersteuners `n treurmare verwag het. (As hulle kon voorsien hoe groot die loesing sou wees het daar stellig nóg minder toeskouers opgedaag!)

Ramadan het natuurlik `n rol in die kleiner skare gespeel. Net die Stormersbase sal, gegrond op die verlede, weet hóé groot dít was.

Duane Vermeulen en Schalk Burger se beserings het seker ook bygedra. `n Mens kan ook nie Duane se afwesigheid goedpraat toe hy in Frankryk groot kontraksyfers gepraat en `n yslike kontrak onderteken het terwyl sy spanmaats moes swoeg nie.

Wat egter kopkrap kos is waarom die span, met verreweg die grootste Superrugby-bywoningsyfer deur die jare, se pawiljoene só leeg was. Ingeligtes beweer die veld was kwalik tweederdes vol.

Dit is alom bekend hoe spanne streef na `n tuis uitspeelwedstryd vir die inkomste wat daarmee gepaard gaan. Vol pawiljoene beteken geld en dit is iets waaraan al ons spanne – ja, ook die suksesvolle Stormers – `n behoefte het.

Op bestuursvlak was Saterdag se swak bywoning dus `n ongetwyfelde teleurstelling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Juan ·

Is n getroue ondersteuner van die Stormers hier in Singapore. Ek was diep geskok om Nuweland so leeg te sien en mens kan net sit en wonder.

scalla ·

soos hulle gespeel het wil ek nie eens verniet nuweland toe gaan nie, swak verloorders, moenie die skare die skuld gee nie, stormers kort twee slotte, een slot vir die voorhek en een vir die agterhek.

Greg ·

Te veel politiek in rugby. Toeskouers nie dom nie. Al ons beste spelers teken nou kontrakte, agv geld en politiek. As die beste span nie speel nie, sal ek nie die span ondersteun nie, maar wel nog my spelers. Wonder wat sal rugby unie doen as ons pawiljoene begin leegloop.

Bluedog ·

Kaartjiepryse was sekerlik een van die groot sondebokke. Teen R350 ‘n sitplek raak dit net onbekostigbaar vir die gewone ou op straat om sy gesin rugby toe te vat. Verdermeer het nie eintlik een van die Suid-Afrikaanse spanne verdien om daar te wees nie. Ons wen mos alles in die koerant voor die tyd…

Johan ·

Ek wens AL die spelers wat hulle sout werd is waai oorsee, waarom aanploeter in ‘n poliiek oorheerste sport “set-up”? Laat die minister van sport en sy kader trawante sien of hulle op hulle eie met hulle inmengerei in sport kan regkom!! Hier kom voorwaar sports!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.