Waar was verlede week se Cheetahs?

Die Cheetahs het die meeste foute gemaak, die Cardiff Blues het self mildelik tot die middelmatigheid bygedra, maar het met meer konstruktiewe spel verdien om die wedstryd Vrydagaand op hul tuisveld met 24-21 te wen.

Waar was verlede week se Cheetahs wat met selfvertroue, flink hanteerwerk en samespel vir Ulster so benoud laat rondskarrel het?

Die Vrystaatse besoekers se opsies, hul algemene hanteerwerk en afronding het veel te wens oorgelaat en hulle het onverklaarbaar met rukke en stote gespeel.

As voorbeeld was daar die skrums, waar hulle twee, drie keer die Blues stukkend geskrum het net om dan ʼn strafskop in die volgende skrum af te staan wanneer die Blues hulle verniel het.

Strafskoppe en lynskoppe wat nie uit was nie, vorentoe aangeë wat goeie bewegings laat skipbreuk ly het en algemene gebrek aan ritme agterlangs het dit vir dit Walliesers makliker gemaak.

Met die meer as 20 hanteerfoute deur die twee spanne en elke span wat 16 keer besit omgekeer het, kan mens jou maar net die afrigters se frustrasie indink.

Daar was nietemin  ʼn paar goeie oomblikke in die Cheetahs se spel en ʼn paar ligpunte wat uitgestaan het. Ox Nche het net eenvoudig oral opgeduik en ook meer as sy deel op die verdediging gedoen, en JP du Preez se lynstaanwerk was onberispelik. Rabz Maxwane, wat as vleuel nog heelwat skaafwerk nodig het, kan met sy vaart en lyfswaai in ʼn puntemasjien soos min ontwikkel.

Albei spanne het goed verdedig, wat natuurlik makliker gemaak is in ʼn wedstryd waar daar  baie oordeelsfoute bý die hanteerfoute was.

Die Cheetahs het nou ná vyf wedstryde vier keer verloor en een keer gelykop gespeel. As hulle nie dramaties regruk nie, wag daar volgende Vrydagaand teen Edinburgh wéér slae.

Puntemakers ‒

Cardiff Blues (10) 24: Drieë: Rey Lee-Lo, Lloyd Williams, Olly Robinson. Doelskoppe: Gareth Anscombe (3). Strafdoel: Anscombe.
Cheetahs (7) 21: Drieë: Walt Steenkamp, Rabz Maxwane, Benhard Janse van Rensburg. Doelskoppe: Tian Schoeman (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

CdV ·

Bewys net weer RSA spanne hoort nie in die oorsese ligas nie. Geld kan duisend maal beter aangewend word deur plaaslik rugby te ontwikkel en spanne beter kans in plaaslike ligas bv Curriebeker te gee. Plaaslike hekgelde kan dan eerder goedkoper gemaak word om meer toeskouers en nuwe ondersteuners te lok.

wolla ·

Ons superrugbyspanne sou Cardiff kafgedraf het as Cheetahs net-net verloor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.