Waarheen nou vir die Stormers?

Ai, wees maar bly as jy nie Sondagoggend ʼn Stormersondersteuner is nie, want hoe kan jy verduidelik wat Saterdag in Buenos Aires gebeur het?

Is dit die afrigter(s) se skuld, is dit die spelers se vaardighede wat nie aan die vereistes voldoen nie of is daar probleme in die span of dalk met die spangees?

Dit is van die vrae wat Sondagoggend onomwonde gevra sal word nadat die Jaguares die Stormers Saterdag in Buenos Aires met 25-14 geklop het nadat hulle rustyd met 15-7 voor was.

Ja, ja, ja, dit was half te verwagte dat die Jaguares die oogskille sou afhaal nadat die Argentynse Poemas (letterlik die Jaguares in nasionale truie) twee keer in Junie deur ʼn uitgedunde Walliese span en ook baie maklik deur Skotland getroef is.

Die Poemas wou nie meer onder die nasionale afrigter, Daniel Hourcade, voortspeel nie. Hulle verkies die Jaguares se afrigter, Mario Ledesma, bo hom en daarom is hulle as die Jaguares ʼn ander gedierte. Sewe opeenvolgende oorwinnings in die Superreeks getuig mos daarvan.

Maar dit gaan eintlik alles oor die Stormers. Tien Springbokke in die beginspan en nog drie op die plaasvervangersbank.

Wat het dan skeefgeloop, veral as hulle meer besit gehad het (54% teenoor 46% volgens die wedstrydstatistiek), 64% teenoor 36% gebiedsvoordeel geniet het en minder moes verdedig?

Die Jaguares het baie, baie meer geskop (22 keer teenoor nege), maar dit was fynberekende taktiese skoppe deur twee skrumskakels,  Gonzalo Bertranou en Thomas Landajo, en die losskakel, Nicolás Sánchez.

Dan het die Jaguares ook vyf van die Stormers se lynstane afgeneem, baie meer fases afgedwing en die Stormers se gebrekkige verdedigingspatroon oopgeruk.

Om dit behoorlik in te vryf het die Jaguares, nadat ʼn strafskop aan die einde van die wedstryd aan hulle toegeken is, verkies om nog ʼn aanslag op die Stormers se doellyn van stapel te stuur.

Hulle wou dit invryf, nog ʼn sielkundige slag slaan, steeds hul oorheersing bewys.

Nou is die vraag: Waar was die trots, die vaardighede, die passie en Stormers-tradisie?

Voor die wedstryd het die Stormersafrigter, Robbie Fleck, laat weet dat die Stormers se grafskrif nog nie geskryf moet word nie.

Ja, dis heeltemal waar, want ʼn mens het nie meer woorde daarvoor nie.

Puntemakers ‒
Jaguares: (15) 25:
Drieë: Bautista Delguy, Matias Orlando, Guido Petti. Doelskoppe: Nicolás Sánchez (2). Strafdoele: Sánchez (2).
Stormers: (7) 14: Drieë: Sikhumbuzo Notshe, Dillyn Leyds. Doelskoppe: Jean-Luc du Plessis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Erick ·

Mense sal my seker nou kruisig. Ek het die wedstyd tot my spyt gekyk. Volgens my is daar een probleem. Sy naam is Siya Kolisie. Hy is die naam flank nie werd nie. Hy was wel op die veld maar al wat ‘n mens gesien het is ‘n persoon wat met sy hande op sy sye rondloop soos ‘n pronkpou. Hy skaars gelak en het glad nie om die bal meegeding soos ‘n oordentlik no. 6 flank nie. Hy het slegs boop die losskrums gaan le wanneer hulle die bal gewen het. Hy het op die veld rondgedwaal soos ‘n afkop hoender. Lyk my die kapteinskap het na sy kop gegaan. Maak liewer Notshe kaptein. Hy het ‘n barshou gespeel en was heeltyd by die bal

Adam ·

Daar is lankal nie meer trots in die span nie Dit begin by bestuur wat hasbeens aankoop en ons jong talent laat Gaan Hoeveel van ons jong manne gaan verlore omdat daar nie behoorlik vooraad geneem word en pad met die jongelinge gestap word nie Die hele afrigting span is verby hul verval datums en daar is geen afrigting meer nie Spelers Weet nie wat om met die bal te maak nie Dan moet daar nog gehoor word die Unie se veld word verskuif WP was altyd finansieeel sterk maar nou is hulle bankrot Spelers begin seker ook al dink wanneer gaan hulle nie meer betaal world nie

Herrie ·

Ek hoop ek is verkeerd…maar die enigste rede hoekom ons die reeks teen Engeland gewen het, is omdat 2 wedstryde op “altitude” gespeel is..selfs die tweede toets het ons net gewen omdat Engelse dissipline belaglik was…SA rugby is in diep moeilikheid. Soos dit nou aangaan kan die Jaguars dalk net die Konferensie wen…wees versigtig..ek hoop ons is reg vir die ABs.

Anoniem ·

Die Stormers moenie beserings as verskoning voorhou nie. Hulle mis werklik net vir Etzebeth, maar speel Pieter Steph du Toit uit posisie omrede hulle nie losvoorspelers het nie. Willemse se besering maak nie ‘n verskil aan die agterlyn nie, daar gaan in ieder geval niks aan nie. Kort voor lank gaan Kitshoff en Louw ook gatvol raak vir die getjommel, so die skrif is aan die muur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.