Waarom die baie Bok- en ander beserings?

Warren Whiteley – weer beseer (Foto GB Jordaan)

ʼn Kykie na die beseringslyste van Suid-Afrika se voorste spanne maak nie goeie leesstof nie.

Dit laat die vraag ontstaan: Kan die spel regtig op die boonste vlak nog vir die spelers lekker wees? Wat is die rede vir die baie beserings behalwe miskien te veel rugby?

Toetsspelers

Van die begin van verlede jaar af kon die volgende toetsspelers in een of ander stadium en weens ʼn uiteenlopende verskeidenheid beserings nie vir wedstryde vir die Bokke of vir hul franchise’e/unies oorweeg word nie.

♦  Albei verlede jaar se Springbokkapteins, Warren Whiteley en Eben Etzebeth (skouer én rug) is tans beseer – Whiteley wéér nadat hy verlede jaar in Junie beseer is en eers onlangs in Japan weer begin speel het.

♦  Verlede jaar se vleuel Courtnall Skosan wat in 12 toetse gespeel het, is steeds weens ʼn geskeurde kruisligament van die veld.

♦  Ruan Combrinck is in Maart verlede jaar beseer. Ná sy herstel is hy deur Allister Coetzee, nie so goed soos Skosan, Raymond Rhule of Dillyn Leyds geag nie, en Combrinck is wéér in Oktober beseer en steeds op die krukkelys.

♦  Francois Venter het ook vanjaar vir die Cheetahs op die kantlyn gestaan.

♦  Warrick Gelant, wat uit posisie op vleuel sy debuut gemaak het, het tien dae gelede eers ʼn paar minute vir die Bulls uitgedraf.

♦  Op skrumskakel het Louis Schreuder die Sharks se eerste wedstryd misgeloop.

Ruan Combrinck – tweede keer beseer. (Foto GB Jordaan)

♦  In die voorry is Coenie Oosthuizen vir nege maande met ʼn gehegte kruisligament langs die kantlyn.

♦  Die stut Frans Malherbe kon verlede jaar nie vir die Rugbykampioenskap oorweeg word nie en is steeds nie reg om in ʼn wedstryd te speel nie.

(Bongi Mbonambi sal nog maande lank van die veld wees, maar dit is darem nie weens ʼn besering nie maar ná komplikasies wat met ʼn gebarste blindederm ingetree het.)

♦  Op slot is Etzebeth en die Bokke se slot/flank Pieter-Steph du Toit albei beseer.

♦  By die losvoorspelers is dit Jaco Kriel en die Du Preez-tweeling Dan en Jean-Luc, wat op die kantlyn staan. Jean-Luc is so te sê reg vir sy eerste wedstryd vanjaar.

Oupa Mohoje was ook lank beseer en Duane Vermeulen kon nie vir die jaareindtoer oorweeg word nie. Uzair Cassiem het ook verlede jaar toetse misgeloop.

Blitsbokke

Dit gaan ewe droef met beserings by die Blitsbokke. Tans is Justin Geduld, Rosko Specman en Werner Kok beseer. Hulle kon nie in die afgelope twee toernooie in Las Vegas en Vancouver speel nie. Ruan Nel het in Las Vegas sy knie beseer.

Seabelo Senatla is feitlik verseker uit die Statebondspele. Hy is deur die Blitsbokke vrygestel om vir die Stormers te speel, wat ingewillig het dat Senatla weer vir Neil Powell-hulle in die Stratebondspele kan speel.

Nou het hy op die Stormers se toer sy lies beseer en mag glo tot ses weke lank langs die kantlyn wees.

Die ervare Chris Dry is weens sy kniebesering uit die huidige Wêreldreeks.

Herhaalde beserings

Wat vir heelwat spelers die lekker van rugby moet bederf, is die herhaling van dieselfde beserings of ʼn nuwe een wat hulle feitlik dadelik weer ongeskik vir die spel maak.

Warren Whiteley, wat na sy liesbesering in Junie teen die Franse lank nie kon speel nie, is al weer op die krukkelys, hierdie keer vir vier weke met ʼn kniebesering.

Marcell Coetzee – vyf wedstryde in 23 maande (Foto: Belfasttelegraph.co.uk)

Dink maar aan Marcell Coetzee wat middel 2016 by die Sharks beseer is, reg was om eers in Maart verlede jaar weer (vir sy klubspan Ulster) te speel, toe ná vier wedstryde weer beseer is en die knie met sy terugkeer in Oktober ná net 19 minute beseer het. Sedertdien is hy bloot ʼn goeie klubman wat sedert April 2016 nog net in vyf wedstryde vir Ulster, met ʼn onderbreking van ses maande ná die eerste vier, gespeel het.

En wat van Handré Pollard wat sy knie beseer het, toe amper die gebruik van sy arm ná ʼn skoueroperasie verloor het, en weer vroeg vanjaar beseer is?

Dan is daar Arno Botha, die Bulls se Springbokflank wat elke keer ná sy terugkeer ʼn wedstryd of drie gespeel het voordat hy weer sy knie beseer het. Sy kontrak by die Bulls is gekanselleer, en hy speel nou (uiteindelik) kookwaterrugby vir London Irish.

Jean de Villiers het in sy loopbaan ses knieoperasies ondergaan en toe moes kunsmatige ligamente daarna gebruik word om sy knie te heg. Hy is in 2015 op die jaareindtoer van die Bokke beseer en het gevrees hy sal nie weer kan loop nie.

Nege maande later was hy Suid-Afrika se Wêreldbekerkaptein.

En Julian Redelinghuys was baie gelukkig nadat hy sy nek gebreek het en toe ná ʼn jaar se oorweging of hy weer moet speel, daarteen besluit het.

Franchise’e

Dan kom jy by die franchise’e. Sonder om baie diep te delf is hierdie ʼn lys van beserings wat vanjaar by die Superreeks se spanne en veral by die Cheetahs in die Pro14 gepla het.

In een of ander stadium, en in mindere of meerdere mate ernstig, kon die volgende spelers, benewens die Springbokke, nie vir wedstryde vanjaar oorweeg word nie – en dit is alles behalwe ʼn volledige lys!

Lions – Rhyno Herbst, Andries Ferreira.

Stormers – Seabelo Senatla, SP Marais, JD Schickerling, Dan du Plessis, Jean-Luc du Plessis, EW Viljoen, JC Janse van Rensburg, Scarra Ntubeni, Jano Vermaak, Jan de Klerk, Sergeal Petersen, Michael Kumbirai, Grant Hermanus, Johan du Toit en Justin Phillips.

Bulls –  Die Springbok Jamba Ulengo, Jannes Kirsten, Burger Odendaal, Jason Jenkins, Nic de Jager, Ivan van Zyl, Ruan Steenkamp.

Sharks – Jeremy Ward, Michael Claassens, Philip van der Walt.

Cheetahs –  William Small-Smith, Dennis Visser, Tian Meyer, Niell Jordaan, Elandré Huggett, Ruan van Rensburg, Lloyd Greeff, Tom Botha, Luan de Bruin, Shaun Venter, Clayton Blommetjies, Henco Venter, Clinton Swart, Fred Zeilinga, Neil Marais, en Malcolm Jaer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Spiekeries ·

O wee die spelfoute? Proeflees niemand die berigte nie?

Jack Russl ·

Ja nee, moes party sinne 2 of 3 keer lees om te verstaan wat hulle sê of van wie hulle praat

Nakkie die Nar ·

Moenie kla nie, gaan leer by die All Blacks (hulle het HORDES beseerdes), dis deel van die game en hul maak n plan, dag vir dag.
Maar ja, hulle het vir Hansen wat VER vooruit kyk-en dink-, Ysters…

Bantam ·

Die probleem is dat die ouens gym fiks is . Hulle moet tog net groot wees en lyk dan word daar aanvaar dat hulle goeie spelers is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.