Waarom kla as Bokke wedstryde wen?

Die Springbokke vier hul reeksoorwinning teen die Britse en Ierse Leeus. Foto: GB Jordaan.

Die Springbokke se kritici het deesdae nie te veel skietgoed rakende die span se uitslae nie: Die Suid-Afrikaners het immers in 2019 die Rugbykampioenskap gewen, die Webb Ellis-trofee staan in ’n plaaslike vertoonkas en hulle het met die louere ná die Britse en Ierse Leeus-reeks weggestap.

Tog bly dit lekker om te “moun” en terwyl die Bokke dan nog op die wenpad is, kan ’n mens mos natuurlik oor hul wedstrydbenadering kla, of hoe?

Hulle skop te veel en doen te min – kyk net na die All Blacks; daar is nou vir jou ’n span wat kán rugby speel.

Toegegee, wanneer jy die woorde “aanvallende rugby” op Google insleutel, sal jy waarskynlik op ’n rits artikels oor die Nieu-Seelanders afkom en hulle laat rugby inderdaad na ’n prettige toeskouersport lyk.

Maar hier is ’n bietjie interessante leesstof.

In 2017 het die All Blacks – die woordeboek se verduideliking vir hardlooprugby – 66 punte in hul drie wedstryde teen die Britse Leeus aangeteken. Daarteenoor het die Bokke met hul gaap-gaap-slaap-benadering vanjaar 63 punte teen die toeriste aangeteken.

Net drie puntjies minder?

Ja, maar daardie Nieu-Seeland-wedstryde was vier jaar terug en baie dinge het verander; hulle het juis die afgelope naweek op ’n drafstap met die Wallabies afgereken, terwyl die Bokke nou nie juis vir ’n vonkelvertoning teen Argentinië gesorg het nie.

Die Springbokke se verdedinging is baie sterk. Foto: Hansie Linde.

Tog het die All Blacks drie Wallabies-drieë deurgelaat, terwyl die Suid-Afrikaners se verdediging seker met koning Leonidas en kie. se vertoning tydens die Veldslag van Thermopylai vergelyk kan word: Teenstanders word nie sommer deurgelaat nie.

En indien daar nie iets onvoorsiens gebeur nie, behoort die twee Springbokke/All Blacks-kragmetings laat in September te bepaal wie met die 2021-Rugbykampioenskap-louere gaan wegstap.

“Ek glo ons kan die All Blacks wen,” sê die voormalige Bloubulskrumskakel Conrad Breytenbach.

“Die Springbokke is baie gesteld op hul verdediging en die Leeus kon in die afgelope reeks, tensy hulle van rolmaalbewegings gebruik maak, nie juis drieë teen ons druk nie. Daarteenoor het ons vleuels en senters drieë gedruk; ons rugby is dus glad nie so vervelig nie.”

Breytenbach stem egter saam dat die Suid-Afrikaners te veel skop en dit is soms irriterend as die skrumskakels so lank vat om die bal die hemele in te stuur; die teenstanders het dan meer as genoeg tyd om hul verdediging in orde te kry.

Die Springbokke het egter soveel vertroue in hul eie verdediging om hul teenstanders dan in hul gebied vas te pen dat dit ook as ’n aanvalswapen beskou kan word.

Cheslin Kolbe kan drieë druk. Foto: GB Jordaan.

“Jy speel net so goed as wat jou teenstanders jou toelaat om te speel en dit is te betwyfel of die All Blacks so teen Suid-Afrika sal kan rondhardloop. Dit is nie noodwendig mooi rugby nie, maar verdediging wen wedstryde.”

En in Makazole Mapimpi, Damian de Allende, Lukhanyo Am en Cheslin Kolbe het Suid-Afrika een van die gevaarlikste agterlyne in wêreldrugby. Hulle sal hul geleenthede kan aangryp wanneer hulle die kans kry.

  • All Blacks se tellings teen die Britse en Ierse Leeus (2017):

Eerste toets: 30–15

Tweede toets: 21–24

Derde toets: 15–15

  • Springbokke se tellings teen die Britse en Ierse Leeus (2021):

Eerste toets: 17–22

Tweede toets: 27–9

Derde toets: 19–16

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jean

2017 vs 2021, groot verskil

Morné

Nooit gedink ons sal dit probeer goed praat om skop rugby te speel nie. Daar is baie waarheid daarin dat ons rugby baie vervelig geword het. Ek is mal oor rugby maar moet bieg ek geniet dit meer om ander lande se rugby te kyk, as ons speel kyk ek maar net na die hoogtepunte. Wat eintlik ook maar nie hoogtepunte is nie. Mis die vuur die lus die opwindende wedstryde wat ons altyd gehad het. Nou is dit een die bal met harde werk en skop, wen die bal met harde werk…..en skop….baie voorspelbare rugby……..gaaaaaaaap

Daleen

Kom ons wag en kyk maar wat gebeur September. Hoop Rassie se video kamera is vol ge”charge”….. :)

Ian

Ai. Vervelig. Nie vervelig. Baie mense se definisie van dit verskil. Wat ons eerder hier sien is ‘n strategiese maestro in aksie wat weet hoe om die opposisie te uitoorlê – Oom Rassie. Moet nie verbaas wees as ons die All Blacks klop met hardloop rugby nie…

Pieter9

Ons kan ons regtig nie steur aan die britse media nie: hulle was 100% seker dat die Leeus die Bokke sou wegblaas…wat toe nie gebeur het, en dit kan hulle eenvoudig nie hanteer nie. Australië sal kla want Rassie het hulle man uitgewys.
Solank ons die All Blacks wen gee ek regtig nie om watter spelpatroon die Bokke speel nie; ek het egter daardie gevoel dat ons manne dalk beter is as wat ons hulle krediet wil gee. Net ‘n wedstryd teen die AB sal dit kan bevestig al dan nie.