Waarom volhard Ludeke en Meyer met ‘McGuyver’?

Bulls_vs_WesternForce_GBJordaan_21Mrt15_09.jpg

Dean Greyling (Foto: GB Jordaan)

Vreemde rugbykeuses is al gemaak, soos die insluiting van ‘McGuyver’ in Heyneke Meyer se jongste oefengroep.

Net so vreemd is Frans Ludeke se volharding met `n man wat gemiddeld vier skrumstrafskoppe per wedstryd afstaan. In `n span wat ook oor Trevor Nyakane beskik. In `n span wat maar twaalfde lê in Superrugby se skrumstatistiek (85% teen die Stormers se 91%).

Twee naweke gelede kies Ludeke die einste niebreker teen die Stormers. Hy kos die Bulls toe vier strafdoele en help die beste span op die veld om 13-15 te verloor.

Dean Greyling se bewondering vir MacGyver – die TV-held van die 1980s wat vir niks en niemand geskrik het – het glo daartoe gelei dat sy ouers sy naam amptelik na MacGuyver Dean Greyling verander het. Sonder om op die korrekte spelling te let, bygesê.

Greyling het al 29 jaar oud geword, maar het sedert sy eerste van drie toetse in 2011-’12 en wie weet hoeveel wedstryde vir die Bulls nog nie as skrumwerker oortuig nie. Hy het ook die onderskeiding van een van die vinnigste geelkaarte in toetsrugby: In 2012 is hy in sy derde en laaste toets teen die All Blacks in die 50ste minuut opgestuur en drie minute later afgestuur nadat hy Richie McCaw met die elmboog bygekom het.

Die Bulls ­– van alle spanne – se gesukkel in die skrums is een van die vreemdste verskynsels van die afgelope paar seisoene. Dit was Saterdag teen die Lions weer só.

Dis `n unie met tradisie en trots, veral as dit by die voorspelers kom. Hy maak dit baie aanloklik vir spelers wat nuwe kontrakte sluit en baie moeilik vir hulle om dit van die hand te wys. Maar hulle kan nie `n voorry koop of ontwikkel of die huidige manne regskaaf nie?

Meyer het verlede jaar ook koppe laat skud toe hy Louis Schreuder – `n no.9 wat sukkel om die Stormers se beginspan te haal – vir die jaareindtoer gekies het, genadiglik sonder om hom Springbokkleure te gee.

`n Mens kan verstaan dat Meyer sy net wyd wil span, maar sy vreemdste keuses vir vanjaar se oefenkampe is seker Jean Deysel en Lizo Gqoboka – twee wat nie naby die Wêreldbeker se reserwelys sal kom nie.

En MacGuyver (sic) Dean Greyling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Arie Scheepers ·

Dankie Lourens jy slaan die spyker op sy kop, Dean hoort nie eens in die Vodacom beker se span nie, hy hoort op geen rugby veld nie, en as die afrigters dit nou nog nie weet nie, hoort hulle nie langs die veld nie!!!!!

Joe ·

Dean is glad nie so ‘n swak skrummer nie, daar is net niemand wat hom reg leer bind nie.
‘N loskop moet so hoog as moontlik met sy linkerhand bind, amper op die vaskop se rug, maar hy bind laag en dan probeer hy homself bo hou deur met sy linkerarm af te trek aan die vaskop se trui.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.