Waarskuwingsligte ná Europese skok

Leinster het die Bulls met 31 – 3 geklop. Foto: Twitter.

Daar is geen verskoning nie, net waarskuwingsligte, ná Suid-Afrika se voorste drie spanne in hul Europese buiging deur hul teenstanders afgeslag is.

Ja, soos in 1992 met Suid-Afrika se terugkeer tot toetsrugby ná ses seisoene sonder internasionale teenstand, het die All Blacks, Australië, Engeland en Frankryk duidelik gewys dat ons gewaande Curriebeker-krag oorskat is.

Die enkele oorwinning in vyf toetse (teen Frankryk voor ʼn neerlaag die volgende week) het die storie van afsondering vertel.

Geld, nogmaals geld – en ook te veel onderlinge rugby

Daar is ʼn aantal redes vir die gesukkel in die nuwe Verenigde Rugbykampioenskap (VRK).

Die vernaamste is seker, soos hierbo uitgelig, die feit dat ons spelers en spanne niks behalwe hul plaaslike eweknieë gehad het om aan gemeet te word nie.

En wat dít betref was daar moontlik te veel rugby toe die hele 2020-seisoen se inperking en sport-beletsels in Oktober hervat is. Al vier die voorste franchise-spanne het in minder as 11 maande elk meer as 30 eersterangse wedstryde gespeel, met van die Bulls se spelers wat ook in klubrugby uitgedraf het.

Die Bulls het 35 wedstryde in net meer as 11 maande gespeel. Selfs met hulle groot aantal spelers weens hul finansiële posisie en die uitstekende kontraktering en gevolglike vermoë om spelers te laat rus, is dit ʼn kwaai las op die spelers.

Die ander drie franchises het ʼn paar minder wedstryde gespeel, maar hul minder spelers het moontlik ook minder ruskans gehad.

Jake White. Foto: GB Jordaan.

Jake White, Bulls-afrigter, het ná Saterdag se wedstryd daarop gewys dat die tuisspan se spelers net ná die Sesnasies-reeks wegwedstryde in die Europese Kampioenskapsreeks teen Toulon en Toulouse moes speel. Daarna het ʼn uitklopwedstryd teen Saracens gevolg.

Dít is die soort druk waaraan ʼn span soos Leinster gewoond is en waaronder hulle moet presteer. Dit is ook waarheen die Bulls mik.

Bydraend tot die swaarkry in verlede naweek se eerste verskyning in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) is daar die werklikheid dat meer as 400 Suid-Afrikaanse spelers, die meeste van hulle uiteraard van ons heel bestes, oorsee speel.

Van dié 400 speel meer as 140 in die drie vernaamste Europese ligas (die nuwe VRK, Engeland se Premierskap-kompetisie en Frankryk se Top 14). Die ander speel in laer Europese ligas, in Japan, Georgië, die VSA, Rusland, en dies meer.

Die Rand se swak prestasie weens wisselkoerse maak dat Suid-Afrika se 140 spelers in dié drie vernaamste Europese ligas loshande die meeste is. Nieu-Seeland se 105 en Australië se 75 spelers vul die tweede en derde plekke van die meeste spelers in voorste oorsese kompetisies.

Suid-Afrika se unies en franchises word beperk tot R60 miljoen vir “speler-aankope”. Dit sluit natuurlik hul betaling in. Kyk ʼn bietjie wat die Franse Top 14-klubs op hul spelers mag uitgee:

  • Vanaf die voorste aankoper (Stade Français) se sowat R685 miljoen tot die laagste (Biarritz) se R225 miljoen staan ons plaaslike franchises nie ʼn kans om spelers te behou as die oorsese tjekboeke uitgehaal word nie.
  • Feitlik elke oorsese span in die VRK het veel groter begrotings as Suid-Afrikaanse franchises. Leinster, die Ierse span teen wie die Bulls Saterdag met 31-3 slae gekry het, se 23-tal vir hierdie wedstryd het gevolglik 17 spelers met toetservaring (een van hulle vir Samoa, die res vir Ierland) ingesluit. Vyf van Leinster se opdraf-voorspelers en ses van die sewe agterspelers het toetservaring. Daar was ook vyf spelers wat vir die Iere se o.20’s gespeel het én ʼn mannetjie (plaasvervanger-heelagter) wat maar 19 is.
  • Daarenteen steek die Bulls (met net ses Springbokke in die naweek se wedstryd), lelik teen Leinster se rits toetsspelers af, en was die Sharks (met net drie Bokke), die Stormers (vier) en Lions (drie) ook sonder hul beste spelers wat tans by die Springbokgroep is.
  • Die SA-spanne het in hul VRK-debuut die afgelope naweek duidelik met die huidige beperkte aantal internasionale gehaltespelers in hul onderskeie spanne gesukkel.

(ʼn Mens glo dat die Suid-Afrikaanse franchises by die veel vinniger pas en interpretasies van die VRK-reeks sal aanpas en dat dit beter sal gaan.)

Met bogenoemde in gedagte is dit geen verrassing dat Springbokke soos onder meer Duane Vermeulen, Nizaam Carr en Marcel van der Merwe nou weg is by die Bulls op soek na groener weivelde nie. Saam met ʼn hele aantal oorsese spelers is hulle Pretoria toe gelok, maar het hulle voor latere oorsese aanbiedinge geswig.

Hulle sou plaaslike rugby versterk het

Courtnall Skosan. Foto: GB Jordaan.

Hierdie is allermins ʼn “merietelys” van oorsese Suid-Afrikaanse spelers, en nie almal van hulle het noodwendig net oor geld oorsee gaan speel nie. Tog is die volgende, relatiewe lukraak lys uit die sowat 400 oorsese Suid-Afrikaanse spelers wat nie tans deel van die Springbokgroep is nie, ʼn goeie aanduiding van hoe ons plaaslike spanne en rugbykrag deur hulle versterk sou kon word:

Heelagters: Tyrone Green, Andries Viljoen
Vleuels: Dillyn Leyds, Raymond Rhule, Courtnall Skosan, Gerhard van den Heever
Senters: Jan Serfontein, Francois Venter, André Esterhuizen, Rohan Janse van Rensburg

Losskakels: Lionel Cronjé, Rob du Preez

Skrumskakels: Francois Hougaard, Ivan van Zyl

Stutte: Francois van Wyk, Luan de Bruin, Coenie Oosthuizen, Juan Schoeman

Hakers: Akker van der Merwe, Mike Willemse

Slotte: Reniel Hugo, RG Snyman, Jason Jenkins, JD Schickerling

Losvoorspelers: Wiaan Liebenberg, Hanro Liebenberg, Jaco Coetzee, Ruan Ackermann, Juarno Augustus, Nizaam Carr

Is dit nie tyd vir ʼn SA Rugby-aandeelhouer nie?

SA Rugby kry finansieel swaar. Die pandemie en gebrek aan toeskouers by wedstryde, veral die Leeutoer se wedstryde, het sake vererger.

Seer soos dit vir die ware rugbyliefhebber behoort te maak, moet daar waarskynlik na ʼn aandeelhouer in ons rugby gekyk word. Six Nations Rugby het byvoorbeeld 14,3% van hul aandele vir $790 miljoen (amper R12 miljard) aan Capital CVC verkoop.

Daar is ongetwyfeld alternatiewe en soortgelyke opsies wat die finansiële las op SA Rugby sal verlig.

Blitsbokke: ʼn stukkie goeie nuus

Daar is darem die ligpuntjie van die Blitsbokke se goeie vertoning in Kanada die afgelope naweek waaraan ʼn mens kan herkou.

Suid-Afrika se seëvierende sewesrugbyspan. Foto: Twitter.

Pragtig gedaan aan afrigter Neil Powell, sy bestuurspan en die klompie relatief onervare manne wat albei vanjaar se Wêreldrugby-sewestoernooie, en daarmee die jaar se reeks in Kanada, gewen het. Ja, daar was net dié twee toernooie, en ja, die meeste van die grotes soos Fidji, Nieu-Seeland, Engeland en Australië het nie gespeel nie.

Maar Powell, wat tussen die 2000/21- en 2011/12-seisoene in 31 toernooie onder Paul Treu vir die Blitsbokke gespeel en geleer het, het dié baanbreker in Suid-Afrika se sewes-sukses se lesse geleer, daarop voortgebou en aangepas, en die afgelope twee naweke met onbekende, jong en ligte spelers die seweswêreld regop laat sit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hardekwas

SA spelers moét die land verlaat en hulle heil in Europa gaan soek. Ons sal hulle daar ondersteun. Plaaslike rugby moet tot niet gemaak word.

Jack

Ek stem saam met Hardekwas.Totdat kwotas en Transformasie geheel en al op alle vlakke en in alle sportsoorte verwyder is kan rugby en ander sport maar deure toemaak in die land.

Bittergal

Elke keer as n kwotaspan verloor is dit n goeie pakslae vir die Anc se rassistiese kwotabeleid. Kwotas en transformasie floreer terwyl hierdie kwotaspanne wen en dit maak die Anc net nog meer arrogant. Ek hoop die kwotabokke kry n goeie pakslae saterdag.

piet

Ek sien SARU se mikpunt is 60% verteenwoordiging van spelers van kleur in die Bok-span teen 2030. Behoort maklik gehaal te word siende dat ons reeds wereldkampioen is met 50% verteenwoordiging. Ons rugby sal net sterker raak met tyd siende die groter poel om van uit te kies. Daar is waarskynlik reeds baie meer rugbyspelers van kleur as wit rugbyspelers in die land. ‘n Opwindende toekoms wat wag .

Pieter

Toe ek op skool was, was baie van die spelers se ouers keurders vir verre-noord en sa skole rugby, en ek belowe jou baie van daai spelers het daardeur plek in n span gekry, al was hy nie die beste nie. Die manne wat nie connected was nie, het oorsee gaan speel, waar jy gekies word vir jou talent, en nie omdat jou pa n keurder is nie