Wag daar nóg ‘n sprokiesverhaal in die GB-reeks?

Wag daar vanjaar dalk weer ‘n sprokiesverhaal in die SA Rugbyunie (Saru) se internasionale oopklubreeks om die Goue Beker?

As dit van Northam Rhinos (Limpopo Blou Bulle) of Swallows (Grens) afhang, is die antwoord ‘n klinkende ja; maar die feit dat vyf uit Saterdag se agt wedstryde met vyf en minder punte gewen is, dui daarop dat dit bloedsweet sal kos.

Twee jaar gelede was dit Durbanville-Bellville wat die Aspoester was om vir die reeks in aanmerking te kom, en dit op die ou end sprokiesagtig gewen het.

Saterdag het Northam sy derde sege op die ry af verdien toe hy die Goue Leeus se beste oop klub, Raiders, op dié se tuisveld met 34-29 geklop het, om die eerste Limpopo-klub te word wat die kwarteindronde in die reeks haal.

Die Rhinos het verlede jaar nog op reserweligavlak meegeding.

Swallows het weliswaar net-net met 32-35 teen Progress George (Suidwestelike Distrikte) verloor, maar is steeds boaan die punteleer in Groep C, geen geringe prestasie nie vir ‘n span wat as promotorskeuse tot die reeks van provinsiale kampioene toegelaat is.

Om bo uit te kom sal dié twee waarskynlik met gedugte spanne soos Sasol Secunda (Pumas), Quins-Bobbies-rugby (Blou Bulle), Progress George, College Rovers (KwaZulu-Natal) en Valsbaai (Westelike Provinsie) in die uitspeelronde moet afreken.

Sasol het Saterdag vir Vereeniging (Valke) met 50-34 oorrompel; QBR het Old Georgians in Harare met 38-34 getroef; en Rovers was met 32-17 teen Roses United (Boland) baas.

Die verdedigende kampioen, Rustenburg Impala, is natuurlik ook nog glad nie uit die prentjie nie, en sy sege van 49-29 oor Welkom (Griffons) was Saterdag se grootste oorwinning.

Sy staatmaker-losskakel, Cecil Dumond, het 24 punte met twee drieë en sewe doelskoppe aangeteken.

Sishen (Griekwas) en Progress Uitenhage (Oostelike Provinsie) het hul eerste wedstryde in vanjaar se reeks gewen.

Sishen het Western Suburbs (Namibië) in Windhoek met 29-26 geklop, en Progress het Old Selbornians (Grens) in Oos-Londen met 26-25 te bowe gekom.

Die puntemakers –

Raiders 29 (22) – Drieë: Dewald van Deventer, Msimelelo Mnwebi, Itumeleng Mpete, Gardener Nechironga. Doelskoppe: Chanleigh Williams (3). Strafdoel: Chanleigh Williams.

Northam 34 (24) – Drieë: Ben Sekgobela (2), Attie Louw, Wortel Loots. Doelskoppe: Patrick Hattingh (3). Strafdoele: Patrick Hattingh (2).

Old Georgians 34 (10) – Drieë: Lawrence Cleminson, Jacques Leitao, Jafnos Chiwanza, Takudzwa Chieza, Wilson Seremani. Doelskoppe: Lenience Tambwera (3). Strafdoel: Lenience Tambwera.

QBR 38 (12) – Drieë: Willem Parker, Lourens Boddington, Bushy Erasmus (2), Mike Nienaber, Sima Yafele. Doelskoppe: Lourens Boddington (4).

College Rovers 32 (24) – Drieë: Dash Kaule, Warren Randall, Chris Jordaan, Grant Rattray, Bisele Tshamala. Doelskoppe: Gavin Scott (2). Strafdoel: Gavin Scott.

Roses United 17 (7) – Drieë: Lamelle Maralack, Jacquin Jansen, Carlisle Oppelt. Doelskop: Jacquin Jansen.

Impala 49 (21) – Drieë: Isak Deetlefs, JP le Grange (2), Cecil Dumond (2), Dumisane Matyeshana (2). Doelskoppe: Cecil Dumond (7).

Welkom 29 (8) – Drieë: Norman Nelson, Cheswin Lewack, Nazo Nkala, Boytjie Herbert. Doelskoppe: Ryno Venter (3). Strafdoel: Ryno Venter,

Western Suburbs 26 (0) – Drieë: Roderique Victor, Gino Wilson, Darryl de la Harpe, Elliot Lombardt. Doelskoppe: Justin Nel (3).

Sishen 29 (12) – Drieë: Gummy Roux, Bees Strydom, Willie Vermeulen, Hugo van der Poll, Koedoe Pretorius. Doelskoppe: Henco Olivier (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.