Wakker WP en lewendige Leeus bespreek halfeind-plekke

Die Vrystaat Cheetahs se losskakel, Ernst Stapelberg, het hier geen deurkomkans teen die Goue Leeus nie. (Foto: GB Jordaan)

Twee onverwagte groot oorwinnings, die een boonop ʼn verrassing, het Saterdag se laaste twee rondomtalie-Curriebekerwedstryde gekenmerk.

Die verrassing was die oortuigende oorwinning van die Westelike Provinsie in die wedstryd in Durban teen die Sharks, wat die Kapenaars met 31-20 gewen het nadat hulle rustyd met 3-13 agter was.

Dit was slegs die tweede neerlaag vir die Sharks, wat hulle afgelope tien wedstryde gewen het. Die WP het met hierdie oorwinning nie net verseker dat hulle wel in die halfeind sal speel nie, maar ook dat hulle tweede op die punteleer eindig en dus ʼn tuishalfeind sal aanbied.

Die Sharks bly egter gerieflik in die eerste plek.

In Saterdag se ander wedstryd het die Goue Leeus op hulle tuisveld die Vrystaat Cheetahs kis gespeel en met 44-17 gewen. Die rustydtelling was 13-10 in die wenspan se guns.

Die Leeus het met die oorwinning derde in die reeks geëindig en sal dus aanstaande Saterdag na Nuweland vir hulle halfeind teen die WP reis.

Die Vrystaat se neerlaag het aan die Blou Bulle, wat Vrydagaand die Pumas met 52-31 geklop het, die vierde plek in die reeks besorg. Húlle speel dus Saterdag in Durban teen die Sharks.

♦  Die WP was reeds voor rustyd die beste daaraan toe maar moes, enersyds deur goeie verdediging en andersyds deur ʼn gebrek aan afronding en swak dissipline, met ʼn agterstand van 10-13 gaan water drink.

Daar was egter van albei kante af eenvoudig te veel foute om dit meer as ʼn interessante dog middelmatige kragmeting te maak.

Die WP was toe skielik merkwaardig goed in die tweede helfte. Die Sharks het, soos ook in die eerste helfte, effens tam voorgekom – miskien omdat daar  in die agterkop die wete was dat hulle reeds ʼn tuishalfeind verseker het.

Ná rustyd het die WP egter met beter samespel en struktuur vorendag gekom. Hulle was skerper by die afbreekpunte en agterlangs was die opsies en hardlooplyne beter. Die losskakel Robert du Preez was gewis ʼn doring in die vlees van sy pa wat die Sharks afrig en het, benewens afgeronde spel, ook twee drieë gedruk. Hy het al vier drieë verdoel en ook ʼn strafdoel oorgeklits. Hy het dus 21 punte aangeteken.

Die Sharks het reg teen die einde eers hulle enigste punte van die tweede helfte met ʼn verdoelde drie aangeteken nadat hulle in die voorafgaande 39 minute 28 punte afgestaan het.

Puntemakers –

Sharks (13) 20: Drieë: Marius Louw, Kobus van Wyk.  Doelskoppe: Curwin Bosch 2   Strafdoel: Bosch. Skepdoel: Bosch.
WP (3) 31: Drieë: Robert du Preez 2, Dewaldt Duvenage, JD Schickerling. Doelskoppe: Du Preez 4. Strafdoel: Du Preez.

♦  Op Ellispark was die Goue Leeus feitlik strykdeur in beheer. Hulle het die besit oorheers, maar was ná die eerste helfte net 13-10 voor.

Die Vrystaat Cheetahs het voorlangs tweede viool gespeel en die Goue Leeus het die Vrystaat net eenvoudig geen beweegruimte toegelaat nie. Sonder die nodige besit en met ʼn magdom omkeerfoute kon die Vrystaters nie hul gewone hardlooprugby effektief speel nie.

Self het die Leeus ook ʼn aantal kanse verspeel.

In die tweede helfte was die Leeus egter skielik weer die span wat ʼn mens die afgelope jare leer ken het. Wyd speel, inklim, omkeerbesit verkry en aanval …

Hulle het vier drieë gaan druk, en is boonop vier keer van nóg drieë weerhou toe die televisieskeidsregter foute raakgesien het.

Puntemakers –

Goue Leeus (13) 44: Drieë: Courtnall Skosan 2, Cyle Brink, Kwagga Smith, Robert Kruger. Doelskoppe: Jaco van der Walt 5. Strafdoele: Van der Walt 3.
Vrystaat Cheetahs (10) 17: Drieë: Makazole Mapimpi, Paul Schoeman. Doelskoppe: Ernst Stapelberg 2.  Strafdoel: Stapelberg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans C ·

Dalk is die sprokie nog klaar geskryf en klop die Leeus die WP en die Bulle die Sharks en is daar ‘n eindstryd in Johannesburg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.