Wallabies-besering versterk Poemas se wenkanse

Michael Hooper – beseer (Foto: Facebook Michael Hooper)

Soos verlede week teen die Springbokke, moes Australië weer kort voor Saterdag se Rugbykampioenskap-toets teen Argentinië aan die Goue Kus ʼn sleutelspeler vervang.

Die onttrekking van die kaptein Michael Hooper is ʼn groot terugslag vir die Wallabies in hul strewe om vanjaar (weer) tweede in die reeks te eindig. Dit is ʼn taai stryd om tweede plek tussen hulle, die Poemas en die Springbokke, terwyl die All Blacks met nog drie wedstryde oor, dit so te sê reeds beklink het.

Dit is die eerste keer dat Hooper, wat reeds 85 toetse gespeel het, ʼn toets weens ʼn besering misloop en slegs sy tweede nadat hy in 2016 ruskans teen Frankryk gegun is. Dié keer is dit ʼn dyspier waarmee die mediese personeel nie wil waag nie.

Hoewel Hooper in eie reg ʼn uitstekende baljagter is en saam met David Pocock deur alle spanne, ook die All Blacks, by die afbreekpunte gevrees word, is daar darem ʼn effense ligstraaltjie ná die kaptein se dyspierbesering.

Pocock skuif nou van agsteman na sy gunstelingposisie op oopkantflank, waar hy selfs nog nader aan die spel is en vinniger by die afbeekpunte kan uitkom. Hy neem ook die kapteinskap oor. Pete Samu word van die bank af na Pocock se plek op agsteman bevorder en Nic Hanigan skuif op die bank in.

♦ In die Australiese kamp is daar groot respek vir die Poemas, hoewel die Aussies tot dusver 15 van die 16 toetse in Australie tussen die twee lande gewen het.

Die Poemas se oorwinning oor die Bokke voorverlede naweek, toe hulle meer oortuigend as die Wallabies in hul sege oor Siya Kolisi-hulle was, laat die Wallabies met die besef dat hulle nou met ʼn span van gehalte te doene kry.

Daar is veral groot ontsag in Australië vir die Poemas se afrigter Mario Ledesma, wat as hulpafrigter saam met die Wallabies-afrigter Michael Cheika op toets- én Superrugby-vlak afgerig het.

Die uitslag mag dalk net bepaal word deur die geloof van elke span in sy eie vermoë. As dit só is, moet die Poemas die gunstelinge wees, want die Wallabies is maar alte bewus dat die Bokke verlede week ʼn sege met twee dom drieë aan hulle weggesmyt het.

Die spanne ‒

Australië
15 Dane Haylett-Petty, 14 Israel Folau, 13 Reece Hodge, 12 Matt Toomua, 11 Marika Koroibete, 10 Kurtley Beale, 9 Will Genia, 8 Pete Samu, 7 David Pocock (kaptein), 6 Lukhan Tui, 5 Izack Rodda, 4 Rory Arnold, 3 Allan Alaalatoa, 2 Tatafu Polota-Nau, 1 Scott Sio. Bank: 16 Folau Fainga’a, 17 Sekope Kepu, 18 Taniela Tupou, 19 Adam Coleman, 20 Ned Hanigan, 21 Nick Phipps, 22 Bernard Foley, 23 Jack Maddocks.

Argentinië
15 Emiliano Boffelli, 14 Bautista Delguy, 13 Matias Moroni, 12 Jeronimo de la Fuente, 11 Ramiro Moyano, 10 Nicolas Sanchez, 9 Gonzalo Bertranou, 8 Javier Ortega Desio, 7 Marcos Kremer, 6 Pablo Matera, 5 Tomas Lavanini, 4 Guido Petti, 3 Santiago Medrano, 2 Agustin Creevy (kaptein), 1 Nahuel Tetaz Chaparro. Bank: 16 Julian Montoya, 17 Santiago Garcia Botta, 18 Juan Pablo Zeiss, 19 Matias Alemanno, 20 Juan Manuel Leguizamon, 21 Martin Landajo, 22 Bautista Ezcurra, 23 Juan Cruz Mallia.

Afskop: 12:00
Skeidsregter: John Lacey (Ierland).
Assistent-skeidsregters: Glen Jackson (Nieu-Seeland), Paul Williams (Nieu-Seeland).
TV-skeidsregter: Glenn Newman (Nieu-Seeland).

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.