Wallabies en Poemas speel slegs vir eer

competition-castle-rugby-championship-stacked-logo-rgb-fa-copy[1]Terwyl die All Blacks en die Bokke dit gaan uitspook om die Rugbykampioenskap se kroon, gaan die Poemas en die Wallabies vir trots speel en poog om Saterdag in Perth hul eerste sege in vanjaar se reeks te behaal.

Albei spanne sal hul bes probeer om nie aan die verkeerde kant van hierdie houtlepel-statistiek te wees nie. Die Poemas, die onderskatte nuwelinge in hierdie gesogte reeks, het die wind in hul seile aangesien hulle die All Blacks laas naweek groot laat skrik het ondanks hul nederlaag van 13-28. Die Wallabies het daarenteen ’n vernederende 38-12 loesing van die Springbokke gekry en die kalf is in die put nadat hulle nou hul laaste vier toetse verloor het.

Die Poemas se belangrikste sterk punt in die toets teen die All Blacks, hul verdediging, kan juis die Wallabies se donkerste nagmerrie word in Perth. Die Wallabies kon nie ’n enkele drie teen die Bokke druk nie en hul aanvalle is al vir ’n geruime tyd so voorspelbaar soos elke dag se sonsopkoms.

Albei spanne het begryplik ’n hele swetterjoel veranderinge gemaak om hul wendroogtes te probeer breek. Die grootste is sekerlik die relegasie van Will Genia na die Wallabies se plaasvervangersbank. Die kapteinsrol sal deur Ben Mowen vervul word en sy mede-Brumbie Nic White sal in Genia se plek as skrumskakel uitdraf.

Dit is stellig ’n goeie skuif deur die Wallabybreier, Ewen McKenzie, aangesien Genia inderdaad moeg begin lyk en reeds baie rugby in die laaste paar jaar gespeel het. As hy een van die genieë van wêreldrugby wil laat rus, is dit daarom wys om dit in ’n “mindere” wedstryd te doen terwyl hy ’n uiters waardige en vars plaasvervanger in White gebruik.

Quade Cooper en Israel Folau word op onderskeidelik losskakel en heelagter behou ondanks hul geringe impak en selfs blatante swak spel in Brisbane.

Die Wallabies se skrum het vanjaar teen elkeen van hul teenstanders gesukkel, veral onder die nuwe reëls wat grootte, krag en uithouvermoë beloon. Saterdag se toets teen die Bokke was geen uitsondering nie en die Poemas, wat tradisioneel sterk klem op hul skrums lê, sal nie ligtelik opgeneem met word nie. Die ervare Ben Alexander vervang daarom vir Sekope Kepu in die voorry om die Wallabies meer stukrag te gee.

Die Poemas het ook sy eie voorryverandering gemaak met Agustin Creevy wat in Eusebio Guinazo se plek as haker sal uitdraf. Hierdie skuif kan vertolk word as straf vir Guinazo se swak dissipline aangesien hy ’n geelkaart in die toets teen die All Blacks asook in die eerste toets teen die Springbokke gekry het.

Voorts sal Tomas Cubelli op skrumskakel in Martin Landajo se plek begin. Die hele Poemamiddelveld verander met die veteraan Felipe Contepomi wat weer diens sal doen op binnesenter met Gonzalo Tiesi op buitesenter.

Die Wallabies het laas in 1997 teen die Poemas verloor, maar só het die Springbokke ook voor die pas afgelope Saterdag laas in 1971 in Brisbane gewen. Die Britse en Ierse Leeus het vanjaar ook die eerste reekssege sedert 1997 behaal. Is dit dalk die “13” in 2013 wat hierdie jaar die konvensies omver gooi? Beslis nie, maar dit is nie vergesog om te dink die Poemas kan dalk verras in Perth nie.

Australië:

15 Israel Folau, 14 James O’Connor, 13 Adam Ashley-Cooper, 12 Christian Leali’ifano, 11 Nick Cummins, 10 Quade Cooper, 9 Nic White, 8 Ben Mowen (kaptein), 7 Michael Hooper, 6 Scott Fardy, 5 Kane Douglas, 4 Rob Simmons, 3 Ben Alexander, 2 Stephen Moore, 1 James Slipper.

Plaasvervangers: 16 Saia Fainga’a, 17 Scott Sio, 18 Sekope Kepu, 19 Sitaleki Timani, 20 Ben McCalman, 21 Will Genia, 22 Matt Toomua, 23 Tevita Kuridrani.

Argentinië:

15 Juan Martin Hernandez, 14 Horacio Agulla, 13 Gonzalo Tiesi, 12  Felipe Contepomi, 11 Juan Imhoff, 10 Nicolas Sanchez, 9 Tomas Cubelli, 8 Juan Manuel Leguizamon, 7 Pablo Matera, 6 Juan Martin Fernandez Lobbe (kaptein), 5 Julio Farias Cabello, 4 Manuel Carizza, 3 Juan Figallo, 2 Agustin Creevy, 1 Marcos Ayerza.

Plaasvervangers: 16 Eusebio Guinazu, 17 Nahuel Lobo, 18 Juan Pablo Orlandi, 19 Mariano Galarza, 20 Benjamin Macome, 21 Martin Landajo, 22 Santiago Fernandez, 23 Lucas Gonzalez Amorosino.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.