Wallabies hou aan baklei teen die Poemas

Tagtig minute.

Dis eintlik veel langer wat ʼn hedenaagse wedstryd duur met al die onderbrekings, beserings en verwysings wat daar voorkom, maar in die praktyk is dit hoe lank jy moet konsentreer, vasbyt en oorheers om ʼn rugbytoets te wen.

Die Springbokke kon dit nie Saterdagmiddag op Loftus Versfeld teen die All Blacks regkry nie en hul voorsprong van 30-13 is in die laaste kwartier uitgewis.

Dis reeds ou nuus. Die All Blacks het 19 hartverskeurende en onbeantwoorde punte aangeteken om die toetswedstryd in die Rugbykampioenskap met 32-30 te wen.

Dit moes sekerlik die saadjie by die Wallabies geplant het toe hulle vroeg Sondagoggend SA tyd in Salta die Argentynse Poemas met 45-34 geklop het.

Die Poemas was rustyd met 31-7 voor, die fiktiewe houtlepel deur laaste in die Rugbykampioenskap te eindig was sekerlik reeds uitgehaal en die Wallabies-afrigter, Michael Cheika, het oor sy toekoms besin.

Maar toe vat die Wallabies vlam, ondergaan ʼn metamorfose en teken 38 punte teenoor 3 in die tweede helfte aan om die Poemas bloedneus te gee.

Hoe is dit moontlik dat ʼn span wat in die eerste helfte vier drieë afstaan, 17 duikslae mis, verkeerde besluite neem en swak hanteer, die wiel binne tien minute kan herontdek?

Ja, die Argentynse losskakel en planmaker, Nicolas Sanchez, is in die 29ste minuut  beseer en deur Santiago Iglesias vervang, maar kan een swaeltjie rêrig ʼn somer maak?

Wat van die Poemas se vurige pak? Kon Iglesias, wat reeds in 42 toetse gespeel het, en die skrumskakel Gonzalo Betranou, nie die stang vasbyt nie?

In die tweede helfte het die Wallabies se Michael Hooper en David Pocock in die los begin oorheers en die losskakel Michael Foley het koel en kalm die regte toutjies getrek.

Die Poemas was moeg, vuisvoos.

Dalk het die eerste helfte te veel van hul energie getap, dalk het hulle te veel probeer om hul voorsprong te verdedig eerder as om op hul goeie spel voort te bou, want hulle kon nie vir 80 minute byhou nie.

As jy saam met die groot honde wil blaf en hardloop, moet jy dit end-uit kan doen.

Puntemakers ‒

Australië (7) 45: Drieë: Michael Hooper, Izack Rodda, Israel Folau, Dane Haylett-Petty (2), David Pocock. Doelskoppe: Michael Foley (6). Strafdoel: Foley.
Argentinië (31) 34: Drieë: Pablo Matera, Emiliano Boffelli, Matias Orlando, Santiago Iglesias. Doelskoppe: Nicolas Sanchez (3), Iglesias. Strafdoele: Iglesias (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.