Wallabies kies dalk vir Cooper

thumb[6]

Die Springbokke sal Saterdag met ‘n vars, begeesterde Quade Cooper te doen kry in die nr.10-posisie van die Wallabies.

Gerugte rondom die span wil dit hê dat Cooper, Ewan Mc Kenzie se eerste keuse op losskakel sal wees en nie Matt Toomua nie.

Cooper het baie goed gespeel in die Superrugbyreeks en was aandadig aan die ondergang van menige span in 2011 toe die Reds as kampioene van die toernooi gekroon is.

“Qudade het die beste wenrekord, beter as enige ander Wallaby,” het McKenzie gesê. “Hy is tans op 67% en sy rekord teen die Bokke is baie goed. Ons het Matt om taktiese redes teen die All Blacks gekies. Hy het wel goed gedoen, maar Quade sal iets spesiaals doen as hy hierdie naweek gekies word,” het McKenzie gesê.

Suid-Afrika se spanne speel glad nie goed in die Suncorpstadion nie. Die Springbokke het al sewe hul toetse daar verloor en die Superrugbyspanne het eweneens maar bedroë daarvan afgekom op dié veld. Beide die Bulle en die Haaie kon vanjaar daarvan getuig.

Die jaar 2011 was ‘n goeie een vir beide Cooper en die Wallabies. Hulle was toe die Drienasies se kampioene, maar sedertdien het hulle maar flouerig vertoon teen veral die All Blacks.

Heyneke Meyer, hoofafrigter van die Springbokke, is deeglik bewus van die gevaar wat in die woelige losskakel steek. “ Ons sal die Wallabies moet verhinder om vinnige balbesit te kry. Ek is nie seker of hulle met Quade sal begin nie, maar indien wel, sal ons op ons hoede moet wees. Die skakelpaar, Will Genia en Quade Cooper, maak balbesit vinnig en dit beteken dat ons soveel verder op verdediging moet uitsprei. Hulle kan die gevaarlikste skakelpaar in wêreldrugby wees”, het Meyer gesê.

Die Wallabies kondig hul span vir die Suncorptoets teen Woensdag aan.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.