Wallabies peuter met reëls vir mooier rugby

Wallaby logo

Wallaby logo

In ‘n land waar rugby ‘n minderheidsport is, moet jy alles doen om die belangstelling te lok. Dit is hoekom die Aussies proefreëls gaan inspan in hulle nuwe Nasionale Rugbykampioenskap (NRK).

Dit is nie die Aussies se eerste poging om iets soos Suid-Afrika se Curriebeker en die Kiwi’s se ITM-kompetisie aan die gang te kry nie. Nege spanne sal oor elf weke aan die kompetisie deelneem wat van laat Augustus tot diep in November gespeel gaan word.

In sy stryd teen die immergewilde Aussie Rules en Rugby League, het die rugbybase besluit om ‘n paar ingrypende veranderinge aan die reeks se reëls te maak – iets wat eendag dalk ook in internasionele rugby kan posvat.

Twee van die grootste veranderinge behels die puntestelsel, insluitende bonuspunte.

Drieë bly vyf punte werd, maar die doelskop word drie punte. Straf- en skepdoele sal net twee punte werd wees.

Vier drieë vir ‘n bonuspunt is ook nie meer goed genoeg nie: ‘n Span kry net ‘n bonuspunt as hy drie of meer drieë as sy opponent behaal.

“Ons wil die spel se integriteit behou, maar ons wil meer kreatiewe rugby sien waarin aanval beter beloon word,” het die ARU se hoof, Bill Pulver, gesê. “Ons hoop dat spanne kantlyn toe sal skop en aanval, eerder as om pale toe te mik.”

Ander veranderinge sluit in:

Skrums: Voorspelers sal net 30 sekondes kry om ‘n skrum te vorm, met die uitsondering van wettige beserings. As die besering nie ernstig is nie, sal die skrum net weggeskuif word van die speler wat hulp ontvang.

Losgemale: Skeidsregters sal probeer om die “ophou duikslag” te stop deur seker te maak dat verdedigers wat die verdedigigers wat die baldraer ophou nie dadelik die gemaal laat instort om omkeerbesit te wen nie.

Die ARU het meer as 600 voorstelle vir reëlveranderings gekry. Die hoop is dat die nuwe reëls verligting vir die gefrustreerde ondersteuners sal bring. Pulver hoop dat die eksperiment tot globale veranderings aan die reëls sal lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.