Wallabies se afrigter verras met losskakel

Kurtley Beale – losskakel-verrassing (Foto: Twitter @RugbyAUMedia)

ʼn Verrassing op losskakel, en hul twee vernaamste spelers wat fiks is vir Saterdag se toets teen Suid-Afrika, is die kenmerk van die Wallabies-span wat Donderdag deur hul afrigter Michael Cheika aangekondig is.

Eerste die losskakel: Soos Rassie Erasmus, het Cheika ook hul nommer een-losskakel Bernard Foley weggelaat en hul spelbreker-senter Kurtley Beale in sy plek gekies.

Foley se weglating is ietwat ironies. Hy en Handré Pollard, wat deur Erasmus weggelaat is, het nog net een keer, in die halfeind van die 2015-Wêreldbeker-toernooi, in ʼn toets teen mekaar gespeel. Albei is Saterdag op die bank.

Cheika het ʼn paar onsekerhede oor beserings gehad wat sy voorbereiding ontwrig het. Terwyl van die manne Woensdag nog erken het hulle is nie seker of hulle fiks genoeg vir die toets is nie, het hul deuntjie duidelik verander.

Hoeveel waagstukke Cheika in die proses aangegaan het, is onseker. Maar hy is onder geweldige druk en moes na hierdie half-fikse grashalmpies gryp.

Israel Folau, wat drie weke gelede ʼn skeurtjie in sy enkel teen die All Blacks opgedoen het, en David Pocock wat van ʼn nekbesering herstel, was gister nog onseker of hulle fiks genoeg is maar is nogtans gekies.

Beale se plek op binnesenter word deur Matt Toomua ingeneem. Dane Haylett-Petty, wat in die tweede toets teen die All Blacks in Folau se plek heelagter was, is terug op regtervleuel. Dan kry die Brumbies se slot Rory Arnold sy eerste proesel toetsrugby vanjaar in die plek van Izack Rodda ‒  ʼn gewisse verbetering aan Australië se pak voorspelers.

Die plaasvervanger-skrumskakel Nick Phipps het nie van sy ribbesering verlede naweek in ʼn klubwedstryd herstel nie en sy plek op die bank word deur die onervare Joe Powell ingeneem. Taniela Tupou het van sy dyspierbesering herstel en die sterk stut is ook op die bank.

Australië se span ‒
15. Israel Folau, 14. Dane Haylett-Petty, 13. Reece Hodge, 12. Matt Toomua, 11. Marika Koroibete, 10. Kurtley Beale, 9. Will Genia, 8. David Pocock, 7. Michael Hooper (kaptein), 6. Lukhan Tui, 5. Adam Coleman, 4. Rory Arnold, 3. Allan Alaalatoa, 2. Tatafu Polota-Nau, 1. Scott Sio. Bank: 16. Folau Fainga’a, 17. Tom Robertson, 18. Taniela Tupou, 19. Izack Rodda, Ned Hanigan, 21. Joe Powell, 22. Bernard Foley, 23. Jack Maddocks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

marco polo ·

Lyk my die Wallabies gaan hard probeer om hierdie een te verloor. Kurtley Beale is seker een van die mees oorskatte spelers in wereldrugby. Hoop hy is darem nou oor sy drankprobleem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.