Wallabies se begin te goed vir Poemas

wallabies-logo-cropOm op toetsvlak binne die eerste twaalf minute drie verdoelde drieë af te staan en steeds te wen is, is nie maklik nie. Dit is presies wat met Argentinië gebeur het en hulle het 36-20 teen Australië verloor.

Die Poemas het in die Rugbykampioenskap-toets in Perth wel sterk teruggeveg en die Wallabies gedwing om in die eerste helfte, daardie 12 minute ingesluit, 98 duikslae uit te voer.

Trouens, na die drieë-blits het hulle 20 punte teenoor die Wallabies se 15 aangeteken en was hulle die beste span.

Deurkom was egter nie vir hulle beskore nie, ondanks ʼn hele paar amperse drieë. Twee strafdoele was nie genoeg nie en hulle was rustyd 6-21 agter.

Die Poemas se benadering was baie interessant. Hulle het in die hele eerste helfte net vier keer geskop, en volpunte moet aan die Wallabies gaan vir die keerwerk voor rustyd.

Die tweede helfte was nie waffers nie. Daar was te veel foute aan albei kante, en negatiewe spel deur die Wallabies het in die wedstryd 17 strafskoppe en ʼn geelkaart teen hulle gebring. Albei spanne se hanteerwerk was in die tweede helfte ook nie op standaard nie.

Daar kan egter geen twyfel wees dat albei die spanne steeds aan ’t verbeter is nie. Australië was beter as verlede week teen die Bokke toe hulle na ses neerlae die eerste keer gewen het, en die Poemas begin die nuwe speelstyl van kort- en binne-aangeë nou heeltemal baasraak.

ʼn Bietjie meer afwisseling met wyer speel sal nodig wees om teenstanders te laat twyfel, maar die Suid-Amerikaners sal oor nog ʼn jaar of twee werklik ʼn handvol wees.

Die Wallabies, vyf drieë teen twee, het volgens die reël wat ook in Superrugby geld ʼn bonuspunt gekry omdat hulle drie drieë meer as die Poemas gedruk het. Hulle is nou tweede op die puntelys met nege punte, met Suid-Afrika op ses en Argentinië op vyf.

Die All Blacks het Saterdag ook ʼn bonuspunt gekry en het met hulle 20 ligapunte reeds die 2016 Rugbykampioenskap gewen.

Puntemakers –

Australië (21 )36: Drieë: Samu Kerevi, Dane Haylett-Petty, Will Genia, Will Genia, Michael Hooper. Doelskoppe:  Bernard Foley 4. Strafdoel: Reece Hodge.
Argentinië (6) 20: Drieë: Santiago Cordero, Facundo Isa. Doelskoppe: Nicolas Sánchez 2. Strafdoele: Sánchez 2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.