Wallabies se pak mag dalk net vir Engeland verras

Pasop vir die Wallabies se voorspelers.

ʼn Ietwat verrassende waarskuwing, ja, maar die Engelse glo hulle sal Saterdag (16:30 SA tyd) die Wallabies voorlangs oorheers in hulle wedstryd op Twickenham. Hulle mag egter hul rieme styfloop.

Die realiteit is dat die Wallabies vanjaar, in ʼn seisoen waar hulle met elke wedstryd verbeter en drie weke gelede die All Blacks geklop het, meer as hulle man in die vaste fasette gestaan het. Hulle word nie sommer weggeskrum nie – vra maar vir Matthew Proudfoot – en hulle lynstane is suiwer.

Maar die Engelse sal ook in die vastelos en veral by die afbeekpunte moet uithaal. Die Wallabies se Sean McMahon, Michael Hooper en die steelkantflank Ned Hanigan sal mans genoeg vir Eddie Jones se losmanne wees, selfs sonder steelkantflank Jack Dempsey, die speler van die wedstryd teen die All Blacks.

ʼn Mens het verlede week, toe Engeland teen die Poemas gespeel het, die indruk gekry dat die onoorwinlikheid van die Engelse in Jones se eerste jaar as hulle afrigter aan die kwyn is.

Agterlangs, selfs met Owen Farrell terug, kry jy die indruk dat die Aussies se agterlyn net daardie iets ekstra het – en as hulle voorspelers ná Vrydag se onttrekking van die slot Adam Coleman hulle deel doen, sal Australië sommer ʼn lekker hupstoot op die wêreldranglys kry en waarskynlik na tweede plek opskuif.

Spanne –

Engeland
15 Anthony Watson, 14 Jonny May, 13 Jonathan Joseph, 12 Owen Farrell, 11 Elliot Daly, 10 George Ford, 9 Ben Youngs, 8 Nathan Hughes, 7 Sam Underhill, 6 Chris Robshaw, 5 Courtney Lawes, 4 Joe Launchbury, 3 Dan Cole, 2 Dylan Hartley (kaptein), 1 Mako Vunipola. Bank: 16 Jamie George, 17 Joe Marler, 18 Harry Williams, 19 Maro Itoje, 20 Sam Simmonds, 21 Danny Care, 22 Henry Slade, 23 Semesa Rokoduguni.

Australië
15 Kurtley Beale, 14 Marika Koroibete, 13 Tevita Kuridrani, 12 Samu Kerevi, 11 Reece Hodge, 10 Bernard Foley, 9 Will Genia, 8 Sean McMahon, 7 Michael Hooper (kaptein), 6 Ned Hanigan, 5 Blake Enever, 4 Rob Simmons, 3 Sekope Kepu, 2 Tatafu Polota-Nau, 1 Scott Sio. Bank: 16 Stephen Moore, 17 Tom Robertson, 18 Allan Ala’alatoa, 19 Matt Philip, 20 Ben McCalman, 21 Lopeti Timani, 22 Nick Phipps, 23 Karmichael Hunt

Afskop: 16:30 SA tyd
Skeidsregter: Ben O’Keeffe (Nieu-Seeland)
Assistent-skeidsregters: Marius van der Westhuizen (Suid-Afrika), George Clancy (Ierland).
Televisieskeidsregter: Simon McDowell (Ierland)

Skotland teen Nieu-Seeland, Murrayfield, 19:15 SA tyd

Die All Blacks speel op Murrayfield teen Skotland, en ondanks ʼn seisoen waar hulle nie heeltyd op hul beste was nie, behoort ʼn enkele goeie helfte soos verlede week teen Frankryk genoeg vir ʼn redelike groot oorwinning te wees.

Die Skotte het verlede week teen Samoa nie oortuig nie nadat hulle die afgelope jaar of twee redelike vordering getoon het, maar het net eenvoudig nie die skietgoed nie, selfs al is die All Blacks nie heeltemal aangeskakel nie.

In die 30 toetse tot dusver het die Skotte nog nooit gewen nie en dit sal nie die naweek gebeur nie. Dit is terloops Saterdag presies 112 jaar gelede dat die twee spanne die eerste keer teen mekaar gespeel het.

Spanne –

Skotland
15 Stuart Hogg, 14 Tommy Seymour, 13 Huw Jones, 12 Alex Dunbar, 11 Lee Jones, 10 Finn Russell, 9 Ali Price, 8 Cornell du Preez, 7 Hamish Watson, 6 John Barclay (kaptein), 5 Jonny Gray, 4 Ben Toolis, 3 Zander Fagerson, 2 Stuart McInally, 1 Darryl Marfo. Bank: 16 George Turner, 17 Jamie Bhatti, 18 Simon Berghan, 19 Grant Gilchrist, 20 Luke Hamilton, 21 Henry Pyrgos, 22 Pete Horne, 23 Byron McGuigan.

Nieu-Seeland
15 Damian McKenzie, 14 Waisake Naholo, 13 Ryan Crotty, 12 Sonny Bill Williams, 11 Rieko Ioane, 10 Beauden Barrett, 9 Aaron Smith, 8 Kieran Read (kaptein), 7 Sam Cane, 6 Vaea Fifita, 5 Samuel Whitelock, 4 Luke Romano, 3 Nepo Laulala, 2 Codie Taylor, 1 Kane Hames. Bank: 16 Nathan Harris, 17 Wyatt Crockett, 18 Ofa Tu’ungafasi, 19 Liam Squire, 20 Matt Todd, 21 Thomas Perenara, 22 Lima Sopoaga, 23 Anton Lienert-Brown.

Afskop: 19:15 SA tyd
Skeidsregter: Matthew Carley (Engeland)
Assistent-skeidsregters: Romain Poite (Frankryk), Ian Davies (Wallis)
Televisieskeidsregter: Graham Hughes (Engeland)

Italië vs Argentinië, Florence, 15:00 SA tyd

As daar nou ʼn span is wat ons in Suid-Afrika in die Superreeks as die Jaguares en in twee Rugbykampioenskaptoetse as die Poemas goed leer ken het, is dit Argentinië.

Oor ʼn week speel die Springbokke teen Italië teen wie hulle verlede week verloor het, en Saterdag se kragmeting van Italië teen die Poemas sal ʼn makliker aanduiding as ander wedstryde van Italië se sterk- en swakpunte kan gee, juis omdat die Poemas aan ons bekend is.

Die geskiedenis sê sit jou geld op die besoekers. Die realiteit is dat Italië verlede jaar teen die Poemas, nogal in Argentinië, amper verras het, en in Conor O’Shea ʼn uitgeslape afrigter het.

♦  Ierland en Wallis, met laasgenoemde wat 14 van verlede week se beginspan teen die Wallabies ruskans gee, het nie hul beste spanne vir Saterdag se toetse teen onderskeidelik Fidji en Georgië gekies nie.

Vir Georgië is die wedstryd teen Wallis belangrik omdat hulle glo hulle hoort in die Sesnasies – en ʼn goeie wen, selfs teen ʼn tweederangse Walliese span, sal hulle argument versterk.

♦   Japan en Tonga,  en ook Samoa en Roemenië, tree mekaar ook Saterdag aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.