Wallabies-sege teen All Blacks is net ʼn droom

Die Nieu-Seelanders sal glad nie daarmee saamstem nie, maar dis in belang van wêreldrugby dat die All Blacks in vanjaar se Rugbykampioenskap vasval.

Dis nie goed as net een span oorheers en aanhou oorheers nie, en dit geld ook op alle vlakke van die lewe.

Maar dis te betwyfel of die Wallabies dit Saterdag in Sydney sal regkry wanneer vanjaar se reeks begin, want hulle het op die oog af nie die nodige diepte en vaardighede om die All Blacks te ontspoor nie. Ja, hulle het dit darem al twee keer die afgelope ses jaar reggekry om die All Blacks te klop, in 2015 (27-19) en ook in 2017 in ʼn derde Bledisloe-toets (23-18) wat nie deel van die Rugbykampioenskap was nie.

Die All Blacks oorheers die Rugbykampioenskap sedert 2012 toe Argentinië sy buiging gemaak het.

Die All Blacks het 30 van hul 33 wedstryde gewen, net twee keer verloor (in 2014 teen die Springbokke en in 2015 teen Australië) en een keer gelykop gespeel (Australië in 2014). Dit is ʼn wenpersentasie van 90,9%.

Vergelyk dit met die gesamentlike pogings van die Wallabies, Springbokke en Poemas. Ja, hulle het benewens teen die All Blacks ook teen mekaar gespeel, maar kon saam net 32 oorwinnings in 99 kragmetings behaal. Dis mos nie goed genoeg nie.

Dieselfde geld ook in wêreldrugby, want die All Blacks het sedert 2012 in 85 toetse nog net ses keer  verloor en twee keer gelykop gespeel, ʼn wenpersentasie van 89,41%. Dit sluit verlede jaar se toer van die Britse en Ierse Leeus met die room van die Sesnasies-spelers in.

Die All Blacks stel die maatstawwe, verskuif die doelpale, trek die toutjies en die res moet volg.

Daar is geen oënskynlike swakplekke in die All Blacks-span nie, hoewel individuele Wallaby-spelers soos Israel Folau, Kurtley Beale, Michael Hooper en David Pocock met die All Blacks kan saamgesels.

Dalk, net dalk, kan hulle die vonk by hul spanmaats aansteek. Dalk, net dalk, kry hulle dit reg om die grondslag vir ʼn skokoorwinning te lê.

Dalk, net dalk pluk die skeidsregter, Jaco Peyper, ʼn kaart uit vir ʼn hoogvat of ontoelaatbare spel uit wat die All Black die kluts kan laat kwytraak.

Maar, ai, as ʼn mens darem aan sulke strooihalms moet begin vasklou.

Die spanne ‒

Australië 
15 Israel Folau, 14 Dane Haylett-Petty, 13 Reece Hodge, 12 Kurtley Beale, 11 Marika Koroibete, 10 Bernard Foley, 9 Will Genia, 8 David Pocock, 7 Michael Hooper (kaptein), 6 Lukhan Tui, 5 Adam Coleman, 4 Izack Rodda, 3 Sekope Kepu, 2 Tatafu Polota-Nau, 1 Tom Robertson. Bank: 16 Tolu Latu, 17 Allan Alaalatoa, 18 Taniela Tupou, 19 Rob Simmons, 20 Pete Samu, 21 Nick Phipps, 22 Matt Toomua, 23 Jack Maddocks.

Nieu-Seeland
15 Ben Smith, 14 Waisake Naholo, 13 Jack Goodhue, 12 Ryan Crotty, 11 Rieko Ioane, 10 Beauden Barrett, 9 Aaron Smith, 8 Kieran Read (kaptein), 7 Sam Cane, 6 Liam Squire, 5 Sam Whitelock, 4 Brodie Retallick, 3 Owen Franks, 2 Codie Taylor, 1 Joe Moody. Bank: 16 Nathan Harris, 17 Karl Tu’inukuafe, 18 Tim Perry, 19 Scott Barrett, 20 Ardie Savea, 21 TJ Perenara, 22 Damian McKenzie, 23 Anton Lienert-Brown.

Skeidsregter:  Jaco Peyper (Suid-Afrika).
Assistentskeidsregters: Wayne Barnes (Engeland), Luke Pearce (albei Engeland).
TV-skeidsregter: Marius Jonker (SA).
Afskop: 12:05 (SA tyd).
Verwagte weer: Mooi weer en koel met ’n sterk wind.
Voorspelling: All Blacks met 12 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Hoc est bellum ·

Ek neem aan dat wanneer die All Blacks wel eendag verloor dat dit vir hulle ‘n baie bitter pil is om te sluk. Die feit dat hulle die Haka uitvoer en die ander spanne moet staan en toekyk, plaas dit hulle sielkundig op die voorvoet. Dis so goed die telling is reeds 7-0 voordat die bal afgeskop word om die wedstryd te begin. Dat die AB’s môre gaan wen, is ‘n voldonge feit.

What a joke! ·

Alhoewel die haka n skouspel is dink ek persoonlik die span wat teen die All blacks speel moet n sirkel vorm en mekaar motiveer en hul rue teen die All Blacks draai…Dit is hul reg!

kolla ·

Die Aussies klop hulle darem so elke nou en dan, ons aan die anderkant…..

C.W.S ·

Love die All Blacks se rugby….sal groot geld kos om hul om te koop om aspris te verloor….Trotse Mense NZ..!!!! Omkoop net n grap lol…

Lol ·

Met Brendon Peyper het die beste span op die veld al baie verloor.

Jean ·

Ja trots met n rede ! Dit help die All Blacks baie dat hul nie op kwotas hul span hoef te kies nie ne…so hul gaan vol sterkte in elke keer met vol sterkte plaasvervangers ook nogal…
Maar Suid Afrika ai ja Suid Afrika …wat n grap …

Rupert Ashford ·

Wel Pieter, jy se dit is in die wereld se belang dat die ABs vasval. Wie anders as die Wallabies het ‘n kans? Ons kyk maar wat gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.