Wallabies skok All Blacks, wen titel

wallaby imageAustralië is die Rugbykampioenskap se 2015 wenner nadat die Wallabies die All Blacks welverdiend 27-19 in Sydney geklop het.

Die tuisspan het met inklimspel, twee baljagters wat gereelde omkeerbesit bewerkstellig het, goeie verdediging en die gebruik van feitlik elke kans die verrassing teweeggebring. Daar moet bygesê word dat die All Blacks nie op hul beste was nie.

Waarom? Was dit sommer net `n afdag of is dit die Geeltruie wat hulle daartoe gedwing het?

Die All Blacks het in die eerste kwartier gelyk of hulle op `n drafstap sal wen. Hanteerfoute, omkeerbesit van Dave Pocock en Michael Hooper, en goeie, soms desperate, verdediging het hulle egter van drieë weerhou tot Nehe Milner-Skudder in die 57ste minuut sy eerste drie gaan druk het en dit later herhaal het.

Anders as die Wallabies wat met twee baie swak stukkies All Black-verdediging tot twee van hulle drie drieë gehelp is, was die All Blacks s’n soos `n mens van hulle verwag: lang opwindende lopies, vernuf en vaart.

Die Wallabies se Bernard Foley het egter met `n pragtige steekskoppie Adam Ashley-Cooper se drie gemaak.

Verrassend was die manier waarop die tuisspan se voorspelers in die skrums baas was. Tradisioneel sukkel die Wallabies in die voorry, maar Saterdag was dit die All Blacks wat telkens op hul eie ingooi in die moeilikheid was.

Die verrassende sege het getoon hoe naby dié twee spanne en die Bokke, wat net-net deur albei geklop is, in gehalte aan mekaar is. Die All Blacks, verdedigende kampioen en vanjaar se Wêreldbeker-gunstelinge, gaan nie sommer sonder slag of stoot deurgaan na die eindstryd of die titel nie. 

Punte –

Australië: Drieë: Sekope Kepu, Adam Ashley-Cooper, Nic White. Doelskoppe: Matt Giteau 2, Nic White. Strafdoele: Giteau, White.

Nieu-Seeland: Drieë: Nehe Milner-Skudder. Strafdoele: Dan Carter 3

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.