Wallabies skraap deur teen Japan

Ryoto Nakamura van Japan sit Australië se Rob Leota agterna. (Foto: Charly Triballeau/AFP)

Die Australiese rugbyspan het Saterdagoggend in die Showa Demko Dome in Oita diep gedelf toe die Wallabies die eenmalige toetswedstryd teen Japan met 32-23 gewen het.

Die rustydtelling was 17-13 in die Wallabies se guns.

Die Aussies het eers in die doodsnikke (79ste minuut) seker gemaak van ʼn oorwinning danksy hul vyfde drie deur die plaasvervanger-haker, Connal McInerney, en ʼn rolmaalbeweging wat die Brave Blossoms nie kon keer nie.

Dit was die Wallabies se vyfde opeenvolgende sege vanjaar en die eerste keer dat hulle dit kon regkry sedert hul Wêreldbekerveldtog in 2015.

Die Wallabies is nou op pad na Europa vir hul jaareindtoer en pak die Skotte volgende op Murrayfield voordat hulle ook teen Wallis en Engeland speel.

Vir Japan, ondanks die neerlaag, was dit ʼn bemoedigende vertoning voor die Brave Blossoms teen die Iere in Dublin speel.

Die wedstryd is nie op SuperSport uitgesaai nie en volgens stuff.co.nz het Japan die Wallabies by die afbreekpunte ore aangesit.

Vir Japan was die voorspelers James Moore, Ben Gunter en die slot Jack Cornelsen goud werd, terwyl die veteraan Quade Cooper die toutjies agterlangs vir die Wallabies getrek het.

Maar een van Cooper se lang aangeë is deur Japan se Ryota Nakamura onderskep wat byna 60 meter ver genael het vir die tuisspan se tweede drie.

Dit het ʼn gefladder in die duiwehok veroorsaak, veral nadat Yu Tamura met net ses minute oor met ʼn strafdoel geslaag het om die telling op 27-23 te staan te bring.

Die Wallabies het vroeg in die eerste helfte ook ʼn terugslag beleef toe die heelagter Reece Hodge, met ʼn skouerbesering die veld verlaat het en deur Jordan Petaia vervang is.

Punte:

Australië: 32 (17): Drieë: Tom Wright, Jordan Petaia, Taniel Tupou, Rob Leota, Connal McInerney. Doelskoppe: Quade Cooper (2). Strafdoel: Cooper (1).

Japan 23 (13): Drieë: Lokano Lava Lemeki, Ryota Nakamura. Doelskoppe: Rikiya Matsuda (2), Strafdoele: Matsuda (2), Yu Tamura.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

VaalDonkie ·

Wys jou maar net wat ‘n goeie afrigter (en ‘n klomp internasionale spelers) vir ‘n span kan doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.