Wallabies skrik glo nie meer vir All Blacks

Nieu-Seeland se Sam Whitelock. Foto: Andrew Cornaga/AFP.

Op die vooraand van die tweede Bledisloe-kragmeting tussen die All Blacks en die Wallabies het die Australiërs een doel voor oë; dit is om die reeks aan die gang te hou.

Die Nieu-Seelanders het weliswaar verlede week die eerste toets met 33 – 25 gewen, maar talle kenners meen dat die gevreesde Kiwi’s nie op hul beste was nie.  Die Aussie-vleuel Andrew Kellaway het selfs so ver gegaan deur te sê dat hulle ’n bietjie van hul aura kwyt is.

Tog weet die All Blacks maar net hoe om rugbywedstryde te wen. Die Bledisloe-beker staan sedert 2002 jaarliks in ’n Nieu-Seelandse vertoonkas, terwyl die Aussies laas in 1986 ’n wedstryd op Edenpark kon wen.

Maar, soos wat daar vroeër in die media op gesinspeel is, is die druk op die All Blacks want hulle sal wragtie nie as die span bekend wil wees wat in Auckland staan en verloor het nie.

“Ons respekteer die All Blacks, maar ons is glad nie bang vir hulle nie,” het Michael Hooper, Wallabies-kaptein, gesê.

Die Nieu-Seelanders het verlede week gesukkel om aan die gang te kom en sir John Kirwan het die eerste 30 minute van die spel as die All Blacks se swakste in vyf jaar uitgekryt.

Sam Whitelock (kaptein) het egter beloof dat die All Blacks hul kritici se monde met ’n kragvertoning sal snoer. En die Nieu-Seelanders beskik normaalweg oor die unieke vermoë om daad by woord te voeg.

Die wedstryd begin môre om 09:05 en sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Uitmykoker ·

Sien SOOOO daarna uit om die Bokke teen hierdie twee spanne te sien uitdraf!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.