Wallabies speel die Bokke kis

Of dit `n drie was of nie, die Wallabies het verdien om die Springbokke in Brisbane in `n Rugbykampioenskap-toets 24-20 te klop met `n ietwat omstrede drie in die 82ste minuut.

Die Springb

Willie le Roux (Foto: sarugbymag.co.za)

Willie le Roux (Foto: sarugbymag.co.za)

okke was rustyd 13-7 en het gelyk of hulle die knoop kan deurhak, maar in die tweede helfte was hulle net een keer in die Wallabies se halfgebied – toe Kriel in die hoek oor is nadat Le Roux en Habana hom op linkervleuel in besit gestel het.

Een les wat enige kyker moes geleer het, is dat jy nie die bal op Folao skop nie.

Veral Le Roux het verkies om die bal middelveld in die gevreesde aanvaller se hande te skop pleks van die kantlyn met `n rollende skop te probeer haal.

Heyneke Meyer het dalk ook geleer dat jy nie onnodige veranderinge van die bank af maak nie. Bismarck du Plessis was `n reus – onder meer met vier omkeerballe – en die Springbokke het ná sy vertrek ook twee lynstane verloor.

Die bank-voorry het ook swakker as die opdrafkeuses gelyk en die Bokke se skrums was skielik onder druk. Bygesê, dit was net Pienaar wat die bal ooit reguit ingesit het, want Nigel Owens het skynbaar nie geweet van die skrumreël nie óf dalk het hy die Wallabies se skrum jammer gekry.

Matfield (kaptein) het die veld in die 17de minuut skynbaar as voorsorgmaatreël verlaat. In sy plek het Lood de Jager `n yslike vertoning gelewer, ook op verdediging. Marcell Coetzee (69ste minuut) se besering lyk veel erger en hy gaan straks `n paar weke op die kantlyn wees, wat `n allemintige verlies vir die Bokke sal wees.

`n Powere lynskop deur Le Roux het in die 32ste minuut `n lynstaan naby die Bokke se doellyn gebied. Die Wallaby-agterspelers het die Bokke se middelveld op `n hoop getrek en Ashley-Cooper het die binne-aangee gevat en `n kliniese drie onder die pale gedruk: 6-7.

Vyf minute later het Etzebeth sy eerste toetsdrie in die hoek behaal. Pollard se lugskoppie is in die lug deur Habana in Le Roux se hande getik en hy het die groot slot in die hoek oorgestuur: 13-7.

Kriel se eerste toetsdrie was in die 41ste minuut behaal, maar daarna was daar net een span op die veld. Net `n aanslaan het die Wallabies in die 70ste minuut van`n drie verhinder. Die Bokke het die skrum nie beheer nie en dit is aan die Wallabies toegeken en Hooper het gedruk: 20-17.

Oortredings deur die Bokke het die Aussies op die aanval gehou en Kuridrani het die wendrie gedruk: 20-24.

Punte

Australië (7) 24: Drieë: Ashley-Cooper 32, Hooper 73, Kuridrani 81. Doelskoppe: Cooper 2, Giteau.  Strafdoel: Cooper
Suid-Afrika (13) 20:  Drieë: Etebeth 37, Kriel 41.  Doelskoppe: Pollard 2 . Strafdoele: Pollard 2.

Spanne

Australië
15 Israel Folau, 14 Adam Ashley-Cooper, 13 Tevita Kuridrani, 12 Matt Giteau, 11 Rob Horne, 10 Quade Cooper, 9 Will Genia, 8 Scott Higginbotham, 7 Michael Hooper, 6 Scott Fardy, 5 Rob Simmons, 4 Will Skelton, 3 Sekope Kepu, 2 Stephen Moore (k), 1 James Slipper. Bank: 16 Tatafu Polota-Nau, 17 Scott Sio, 18 Greg Holmes, 19 James Horwill, 20 David Pocock, 21 Nick Phipps, 22 Matt Toomua, 23 Drew Mitchell

Suid-Afrika
15 Willie le Roux, 14 JP Pietersen, 13 Jesse Kriel, 12 Damian de Allende, 11 Bryan Habana, 10 Handré Pollard, 9 Ruan Pienaar, 8 Schalk Burger, 7 Marcell Coetzee, 6 Francois Louw, 5 Victor Matfield (k), 4 Eben Etzebeth, 3 Jannie du Plessis, 2 Bismarck du Plessis, 1 Beast Mtawarira. Bank: 16 Adriaan Strauss, 17 Heinke van der Merwe, 18 Frans Malherbe, 19 Lood de Jager, 20 Oupa Mohoje, 21 Cobus Reinach, 22 Pat Lambie, 23 Lwazi Mvovo

Skeidsregter: Nigel Owens (Wallis)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eduan Naudé ·

Niks nuuts nie: Bokke loop voor; verdedig telling; Aussies gaan lê nóóit, haal in, en wen in doodsnikke van die wedstryd. Keer op keer; ho-hum.
En TMO’s is bewys dat tegnologie mense onnoseler maak.

Klaar rugby gekyk vir die seisoen.

RLN van New Zealand ·

Het in die tweede helfte gaan slaap sommer geweet die Bokke gaan verloor en wou nie sien hoe hulle verloor nie.
Vanoggend sien ek dit is toe… net so… Wallabies het verdien om te wen…. so jammer om dit te se.

Francois ·

Ek is ń stoere All Black ondersteuner, so ek het dalk ń nuttige objektiewe wenkie vir nie net Springbokrugby nie maar SA rugby.
Om balbesit te H-O-U is die eerste, belangrikste, kern beginsel. ń Mens kan nie ń drie S-K-O-P nie. Jy moet hom D-R-U-K.

Nico K ·

Die Springbokke het nie so sleg gespeel nie. die plaasvervangers is gebruik om hulle te toets. Dis duidelik dat hierdie reeks (ook deur Australië en Nieu Zeeland as mens sien hoeveel ou manne hulle teruggebring het) gebruik gaan word om te kyk wat en wie werk. Die wêreldbeker is die belangrike een en hierdie toetse moet gebruik word om te eksperimenteer. Ek raai RLN het ook sommer geweet die Springbokke gaan in beseringstyd met ‘n omstrede drie verloor. As julle wil kommentaar lewer, probeer goed beredeneerde opinies, asb.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.