Wallabies teen Ierland belangrik vir SA

ʼn Toetswedstryd wat Saterdag vir Suid-Afrika miskien belangriker is as die kragmeting tussen die All Blacks en Frankryk, is dié tussen Australië en Ierland in Melbourne (afskop 12:05).

Ierland, wat ná die Sesnasiesreeks na die tweede plek op die wêreldranglys opgeskuif het, is verlede week deur die Wallabies geklop.

Vir die meeste rugbyvolgelinge wêreldwyd was dit moontlik ʼn verrassing, veral gesien die voortgesette gesukkel van Australië se spanne in die Superreeks.

In hierdie geval is die geheel egter meer werd as die afsonderlike dele, want dit is duidelik dat die Wallabies vanjaar weer gedug is. Hulle het verlede week teen Ierland gewen, en daarmee het hulle Engeland uit die derde plek op die ranglys gedruk waar Eddie Jones-hulle nog vroeër vanjaar tweede onder die All Blacks was.

Klop die Iere die Wallabies en Suid-Afrika vir Engeland, sal die Bokke weer derde op die ranglys wees.

Michael Cheika, die Wallabies se afrigter, het die eerste keer in sy 46 toetse die span onveranderd behou, maar die Iere het ʼn hele aantal veranderinge aangebring.

Cheika het ook daarop gesinspeel dat sy span teleurstellend min in die eerste toets gehardloop het. Sy kaptein Michael Hooper sê ook sy span gaan Saterdag meer hardloop.

Dit sal nie maklik wees nie. Ierland se afrigter Joe Schmidt het die agterlyn versterk met die blote insluiting van Johnny Sexton, en dit is duidelik dat die Iere die tuisspan voor wil verniel met hulle drie nuwe manne in die voorry, nóg een op slot en een op flank.

Dit sal interessant vir Suid-Afrika wees om te sien hoe goed die Aussies werklik is.

♦ Die All  Blacks is pure gehalte en het die kans gebruik toe Frankryk, in daardie stadium baie mededingend, kort na rustyd ʼn man met ʼn onverstaanbare geel kaart verloor het.

Twee drieë in sy afwesigheid het moontlik die ewewig geswaai, hoewel dit groot woorde is teen die All Blacks. En dit is hoe die Franse nou maar eenmaal is.

As hulle nie met erns glo hulle gaan die tweede toets in Wellington (afskop Saterdag 09:95) wen nie, wag daar weer groot slae.

Jy kan nie tien opeenvolgende neerlae wegwens nie, veral nie as sewe daarvan met tien of meer punte was nie, insluitende loesings van 52-11 verlede Saterdag, 62-13 in 2015 en 3-0 in 2013.

♦ Wallis, glo dit as jy wil, wag al weer op die Bokke op die jaareindtoer, die vierde wedstryd tussen dié twee in drie jaareindtoere oftewel twee jaar.

Vóór dit kry Rassie Erasmus se span in Augustus te doen met die Jaguares in hulle eerste twee toetse in die Rugbykampioenskap in Durban en Mendoza.

Erasmus sal dus met groot belangstelling kyk hoe die Pumas en Wallis (Saterdag, afskop 21:40) teen mekaar opweeg nadat Wallis Saterdag in elke opsig aan die korste end getrek het maar tog gewen het teen die Pumas wat net eenvoudig een van dáárdie dae beleef het.

♦ Japan is aan’ t opkom as rugbyland en sal graag Italië ʼn tweede keer ná mekaar wil klop, dié keer in Kobé.

♦ Ook die VSA, wat onder eers John Mitchell en nou Gary Gold gedy, sal moeilik deur ʼn verswakte Skotse span, sonder van sy groot uitblinkers, verloor.

♦ Rusland, wat verlede naweek deur die Amerikaners afgeransel is, speel Saterdag teen Kanada wat vanjaar werklik sukkel, en in die Suidsese eilande speel Fidji teen Georgië in wat ʼn taai en interessante stryd sal wees en Samoa en Tonga meet met mekaar kragte.

Hierdie twee wedstryde is in rondomtalie Stille Oseaan-Nasiesbekerreeks van Wêreldrugby.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.