Wallabies trek Pumas se tande… ook maar net-net

Australië se rugby-afrigter, Michael Cheika, tydens ‘n mediakonferensie by die Australiese ambassade in Tokio. (Foto: Jim Armstrong/AP)

Niemand sal die Wallaby-afrigter, Michael Cheika, kwalik neem as hy binnekort al sy hare verloor nie, oftewel die bietjie wat hy nog oor het.

Dit kom nadat Australië Saterdagaand in Brisbane sy Rugbykampioenskap‑kragmeting teen die Argentynse Pumas met 16 – 10 gewen het, nadat die Aussies rustyd met 10 – 3 voor was.

Maar Cheika-hulle moes byna die papelellekoors gekry het toe die Pumas se agtsteman, Facundo Isa, sowat tien minute voor die einde die voorsprong van 16 – 3 tot 16 – 10 laat krimp het nadat hy vir ʼn verdoelde drie deurgebars het.

Ewe skielik was die Wallabies met die rug teen die muur en onverwags het spoke van die Pumas se derde oorwinning in 19 toetse oor die Wallabies opgevlam.

Dis geen wonder nie dat die Wallabies mekaar omhels het vir ʼn seldsame oorwinning toe die eindfluitjie geblaas het. Hulle het immers net vier van hul 13 toetswedstryde verlede seisoen gewen en was maar bra vuisvoos verlede week teen die Bokke op Ellispark.

Met die Wêreldbekertoernooi oor twee maande in Japan, is enige sege sekerlik soos manna uit die hemel.

Die groot vraag is of enige van die twee spanne in Japan kan verras.

Die Wallabies het baie na aan hul beste span gekies en afgesien van David Pocock en Adam Coleman, loop daar nie beter spelers in Australië rond nie.

Ook het James O’Conor, die verlore stout seun wat laas in 2013 in Perth in ʼn toetswedstryd gespeel het, onder luide toejuiging sy verskyning van die plaasvervangersbank af gemaak.

Krummels, mense, krummels.

Daar is wel ʼn rits balspelers en spelskeppers soos Kurtley Beale, O’ Conor, Samu Kerevi, Tevita Kuridrani, Christian Lealiifano en Will Genia, maar ai, hulle is ook maar bra onbestendig. Voorlangs hang daar steeds vraagtekens oor hoe die Wallabies teen fisieke voorspelers sal vaar.

En die Pumas?

Ja, hulle kan een of twee spanne verras, maar wil jy oorlog toe met hulle gaan? Die statistieke vertel hoe gelykop die stryd verloop het. Die Wallabies het 480 meter met die bal gevorder en die Pumas 482.

Die Wallabies het 117 duikslae uitgevoer, waarvan hulle 29 gemis het teenoor die Pumas se 121 duikslae waarvan hulle 26 gemis het. Die Wallabies het 123 keer die bal uitgegee, die Pumas 138. Die Wallabies het 25 keer geskop en die Poemas 23.

Wat kan ʼn mens daarin lees?

Byna niks nie, behalwe dat Cheika ʼn bietjie rustiger sal slaap en die Pumas wonde sal lek voordat hulle die Bokke oor twee weke pak.

Puntemakers:

Australië 16 (10): Drie: Reece Hodge. Doelskop: Christian Lealiifano. Strafdoele: Lealiifano (3).

Argentinië 10 (3): Drie: Facundo Isa. Doelskop: Joacquin Diaz Bonilla. Strafdoel: Nicolas Sanchez.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Frans C ·

As die Argentyne gehoop het dat Nicolás Sánchez ‘n verbetering in hul spel gaan bring,moet hul terleurgestel wees want teen alle verwagtinge in het die Wallabies
hul voorlangs geklop en kon hul nie afrond nie naby die doellyn nie.

Ek sou nie die wallabies afskryf nie en kan hul met min balbesit nog steeds agterlangs baie gevaarlik wees.

Kallie ·

Die Pumas se groot probleem bly die skrum. Dis waar hulle groot wedstryde verloor. Die Wallabies is useless.

Therese van Schalkwyk ·

Slegs iemand wat nie week na week sien hoeveel talent, balvaardigheid en spoed, verlore is vir Rugby in Australië, met sy 18 AFL-spanne en 16 NRL-spanne nie, sal praat van “krummels” wanneer ‘n redelik talentvolle rugbyspeler weer beskikbaar is vir die Wallabies.
Hoe die Wallabies hoegenaamd effe kompeterend bly, weet nugter, want daar is nie nóg ‘n rugbyland met drie soorte voetbal, sokker uitgesluit, nie.
Wallabies wat stagneer, laat die rugby-wêreld veel armer. Die huidige én volgende wêreld-kampioen buurland, wat die Aussies jaar in en jaar uit vermorsel in die Bledisloe-kompetise, doen verder nie veel om spelers op skoolvlak te lok nie.
“Spare a thought”!

Therese ·

Wil ook net graag groot waardering uitspreek vir Maroela se puik sportberigte!

Ewald ·

Stem saam. Rugby in Australië is dood. Als is AFL en league en sokker. En dan “verloor” hul nog hul beste speler in Israel Folou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.