Wallabies troef Poemas en maak geskiedenis

Argentinië se Julian Montoya (C) vier die suksesvolle drie van spanmaat Thomas Gallo tydens die Rugbykampioenskap. (Foto: Patrick Hamilton/AFP)

Die vreugdevure gaan hoog in Australiese rugbykringe brand, al het hulle nie die Rugbykampioenskap gewen nie en met 3 – 0 deur die All Blacks in drie Bledisloetoetse (twee daarvan was in die Rugbykampioenskap) verwoes is.

Australië het Saterdag in Townsville die reeks afgesluit deur die Argentynse Poemas met 32 – 17 te klop nadat hulle rustyd met 15 – 3 voor was.

Die Wallabies en hul ondersteuners sal die reeks nog lank koester, want hulle het die eerste keer vier opeenvolgende toetswedstryde in die Rugbykampioenskap gewen en so ook die tweede plek in vanjaar se reeks beklink deur die Springbokke tot die derde plek te verdoem.

Die Wallabies, wat die Springbokke twee keer verslaan het, het ook skoonskip teen die Poemas gemaak en met 18 punte op die kampioenskapspuntelys geëindig.

Die Wallabies het oorheers en volgens Sanzaar se wedstrydstatistieke het hulle 619 meter met die bal gevorder teenoor die Poemas se 254. Hulle het die bal baie meer uitgegee en baie meer die voordeellyn as die Poemas oorgesteek.

Vyf drieë teenoor twee vertel mos die verhaal.

Hul verdediging was ook in die kol, want die Wallabies het 113 duikslae uitgevoer en net 13 verbrou, terwyl die Poemas 124 keer verdedig het waarvan hulle 22 duikslae gemis het.

Wat belangrik is, is dat die Wallabies – met die ervare Nieu-Seelandse afrigter Dave Rennie in die tuig – die grondslag vir die toekoms gelê het. ʼn Hele paar jong spelers het na vore getree, is verder ontwikkel en baie diepte is geskep.

Dan het die vleuel Andrew Kellaway Saterdag ʼn driekuns aan drieë behaal, en met sy agt drieë vanjaar is hy op die spoor van Israel Folau wat die Aussie-rekord van tien drieë in ʼn seisoen hou.

Die Wallabies sal ook vir die komende toer na die Noordelike Halfrond spelers wat oorsee speel, soos Rory Arnold, Will Skelton en Sean McMahon kan nader trek, wat hulle nog gedugter kan maak.

En die Poemas?

Soos altyd was hulle weer vol passie en ondernemend – maar met min dissipline.

Punte: Australië 37 (10): Drieë: Andrew Kellaway (3), Folau Fainga’a, Samu Kerevi. Doelskoppe: Quade Cooper (3). Strafdoele: Cooper (2).

Argentinië 17 (3): Drieë: Thomas Gallo (2). Doelskoppe: Emiliano Boffelli (2). Strafdoel: Boffelli.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.