Wallabies vaar toe beter as Bokke teen All Blacks

Wallaby-vreugde (Foto: Twitter @qantaswallabies)

En Saterdag word Suid-Afrika se amperse wen teen die All Blacks toe in perspektief gestel.

Die Wallabies, teen wie die Bokke twee keer gelykop gespeel het, het in Brisbane slegs die tweede keer in 19 wedstryde teen die All Blacks gewen – en dit deur en deur verdien.

Dit het boonop gevolg nadat die Wallabies in hulle tweede Rugbykampioenskaptoets in Dunedin tot twee minute voor die einde voor die All Blacks was.

Die telling Saterdag was 23-18. Dit was die verdediging van die Wallabies, wat net 11 duikslae teenoor die 28 van die All Blacks verbrou het, wat miskien die grootste rol in die oorwinning gespeel het.

Ook volpunte aan hulle vaste vyf wat die All Blacks meer as net vasgehou en onder meer ʼn kritieke lynstaanbal gesteel het.

Daar was heelwat reën voor die tyd en die veld was nat en die bal glad. Die eerste helfte was hard, maar daar was meer foute as wat die spanne sou wou gehad het.

Opskietverdediging was aan die orde van die dag en die Aussies was uitstekend met hulle uitvoering en hulle verdedigingslyne en -opsies. Trouens, hierdie druk het aan Reece Hodge ʼn onderskepgeleentheid gegee en hy het ná ses minute die tuisspan met 7-0 laat voorloop.

Dissipline en meer foute deur die All Blacks het die Wallabies die kans gegee om deur ʼn uitstekende drie net voor rustyd tot 12-13 terug te veg.

Hulle was deurgaans beter as die All Blacks by die afbreekpunte, en die Wallabies het in hierdie topgehalte-toets in die tweede helfte meer dikwels gevaarlik gelyk, die All Blacks steeds met hulle verdediging gefrustreer en hulle eie kanse gebruik.

Twee van hulle drie drieë is gedruk ná goeie spel nadat voordeel deur die skeidsregter Wayne Barnes toegelaat is.

Bernard Foley se skopwerk pale toe was maar eina. Was dit nie daarvoor nie het ons nie die spanningsvolle laaste klompie minute gehad nie. Die All Blacks het gaan druk ná pragtige hantering van Sonny Bill Williams en Kieran Read wat Riekie Ioane laat afrond het en hulle was net 18-23 agter.

Hodge se tweede lang strafdoel ná 77 minute was nog nie deurslaggewend nie, maar die Geeltruie het uitgehou.

Uitblinkers? Sommer baie. Issy Folau was dalk net ʼn trappie beter as die ander aan Wallabykant terwyl die lostrio met Jack Dempsey aan die spits ook baie lof verdien. .

Lesse uit die wedstryd? Die All Blacks se goeie strukture en reserwekrag. ʼn Hele paar van hul bestes was nie beskikbaar nie, en tog was hulle so amper-amper teen die einde weer baas.

ʼn Tweede les: die Wallabies wat as span die seisoen gegroei het ondanks ʼn siek lotjie spanne op Supervlak. Michael Cheika is ʼn moeilike en ongeskikte kalant, maar hy kán afrig.

Puntemakers –

Australië: (12) 23: Drieë: Reece Hodge, Kurtley Beale, Marika Koroibete.    Doelskop: Bernard Foley. Strafdoele: Hodge 2.
Nieu-Seeland (13) 18: Drieë: Waisake Naholo, Rieko Ioane. Doelskoppe: Lima Sopoaga 2. Strafdoel: Sapoaga

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Charles Skeen ·

Veels geluk Wlabies, teen ‘n redelik verwakte, mak gemaakte All Black span.

Robert ·

Dieselfde redenasie soos na die springbokke se net verloor teen die AB’s kan nou ook uitgebring word. Daar is gesê dat die AB’s klaar die kampioenskap gewen het en dus nie op volle spoed was nie, nou kan ook gesê word die AB’s het klaar die Bledisloe beker gewen en was nie op volle spoed nie so dit het die Aus kans gegee.

T. van Schalkwyk ·

Iets soos ‘n “dead rubber” Bledisloewedstryd bestaan glad nie. Daarvan getuig die yslike 45 000 plus skare, wat gewemel het van Kiwi’s, in ‘n sopnat Suncorp-stadion.

Niks sou die All Blacks groter vreugde gegee het as om die Wallabies in hierdie laaste kragmeting te verwoes nie, veral in die lig van hulle naelskraapse en onoortuigende 1-punt wen oor die Bokke twee weke gelede.

Daar word gereeld gesê en geskryf dat daar nie iets soos ‘n ‘verswakte’ All Blackspan is nie, so wanneer hulle geklop word ‘once in a blue moon’ moet dáárdie verskoning tog nie gebruik word nie. Dit sou ‘n klug maak van enige poging om die magtige Wêreldkampioene te klop.

Veels geluk, Wallabies!

Speedguard ·

Dan Coles, regte boef, wens iemand kan hom bietjie op sy plek sit, windgat verby !! Moet ook nie die kortmannetjie Smith vergeet nie !!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.